Hy het op die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) se jaarkongres in Pretoria gesê Suid-Afrikaanse varsproduktemarkte se gesamentlike verkope sal vanjaar die R17 miljard-kerf verbysteek. Dié markte bedien ook lankal nie meer net Suid-Afrika nie, maar ook ál die buurlande en lande so ver as Nigerië en die Kongo.
“Die mark op ons voorstoep is 1,2 miljard mense in Afrika. Net in Suid-Afrika is 56 miljoen mense, met ’n verdere 120 miljoen binne ’n afstand so ver as wat Kaapstad van Johannesburg is.
“Die kopers in daardie lande is bewus van ons. Hulle hoef nie hul eie produsente te vind nie. Hulle kan na die mark in Pretoria of Johannesburg ry en alles van enige gehalte kry wat hulle benodig. Hulle doen dit reeds elke dag,” sê hy. Hy sê in Suid-Afrika is die informele voedselmark sowat 40% van die totale voedselmark ter waarde van sowat R404 miljard per jaar. Vars produkte is sowat 9% daarvan.