
Tien welwillendheidsorganisasies en talle voedsel-onseker huishoudings het 46 ton aartappels ontvang as deel van Aartappels Suid-Afrika (ASA) se #PassThePotato-veldtog, sê me. Immaculate Zinde, bemarkings-en-produkpromosiebestuurder van ASA.
“ASA se werknemers het geld uit hul eie sakke geskenk, waarmee aartappels aan behoeftige huishoudings in Pretoria geskenk is. Grow Markagentskap het ’n ton aartappels geskenk wat aan huishoudings in Alexandria en Diepsloot geskenk is. AL 3, Insta POTS, Candi and Co Dainfern en nog vele ander private maatskappye het ook aartappels geskenk.”
Die veldtog is gemik daarop om minderbevoorregte mense wat deur die moeilike tye geraak word, wat deur die covid-19-pandemie vererger is, by te staan. Volgens Statistieke SA is 7,8 miljoen mense tans sonder werk of ’n voldoende inkomste, weens die werkloosheidsyfer wat einde verlede jaar 34,4% bereik het. ASA wil sy bykans 75 000 volgelinge op sosiale media aanmoedig om iets terug te gee aan diegene wat die swaarste kry.
Produsente wat by hierdie veldtog betrokke wil raak, kan bloot ’n minderbevoorregte huishouding identifiseer en ’n aartappel- of selfs enige ander groentepakkie skenk. Om verdere bewusmaking van die veldtog aan te wakker, kan die skenking en diegene wat dit ontvang, op sosiale media met ASA (Instagram: @potatoes_za Facebook: Potato Nation) gedeel word saam met die hutsmerk #PassThePotato. “Moenie vergeet om jou familie, vriende en bure uit te daag om dieselfde te doen nie. Saam kan ons hongersnood uitwis.”
Bykans 75 000 volgelinge
Teen Januarie 2022 het ASA bykans 75 000 volgelinge op sosiale media gehad. In Desember, tydens die #PassThePotato-veldtog, het ASA 94 000 mense op sosiale media bereik. Tydens Desember het ASA se getal volgelinge met bykans 2% gegroei.
Die oogmerk van ASA se #PassThePotato-veldtog en ander veldtogte is om bewusmaking van aartappels te skep en nie noodwendig om direkte verkope te bevorder nie. “Die voordeel van hierdie veldtogte is dat dit mense bereik wat reeds belang stel in aartappels en dus waardevolle interaksie met die regte gehoor meebring. Die terugvoer wat ons van ons verbruikers kry, is dat ons veldtogte ’n gunstige ingesteldheid teenoor aartappels en aartappelboere kweek en dat hulle trots is om aartappels as deel van hul dieet te geniet.”