
Die Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes is in die toetsfase van ’n nuwe ekovriendelike projek; pale van bloekomhout wat nie met chemikalieë behandel is nie. Timmerhout wat in die buitelug gebruik word, word tipies met chemikalieë behandel sodat insekte en mikrobes nie die hout beskadig nie. Hierdie stowwe kan egter in die grond lek en skade aanrig.
Die Vergelegen-projek word deur Green Cape Timbers bestuur, volgens me. Judy Bryant, ’n skakelbeampte by die wynlandgoed. Green Cape Timbers se eienaar, mnr. Sean McGaffin, het in ekovriendelike timmerhout begin belang stel toe hy onbehandelde houtpanele as deel van ’n internasionale projek na Nederland uitgevoer het. Die maatskappy vervaardig en voorsien die Vergelegen-wynlandgoed van bloekompale.
Die bloekompale op Vergelegen strek oor 3,55 ha en is tans in die Sauvignon blanc en Semillon-wingerde geplant, volgens mnr. Rudolf Kriel, Vergelegen se wingerdboukundige. Hout vir die pale word gemaak van plaaslike bloekombome, wat ’n algemene boom op baie plase in die Wes-Kaap is.
“Suid-Afrikaners se algemene persepsie oor bloekombome is dat dit ’n aggressiewe indringerspesie is. Dit word aangehits deur vrese vir droogte en die idee dat bloekombome oor die algemeen ondergrondse water opgebruik,” sê McGaffin. “Dit is in die werklikheid nie die geval nie. Bloekoms gebruik nie meer water as enige ander boom van dieselfde biomassa nie.”
Luidens ’n studie deur die Universiteit Stellenbosch is die bloemkomhout vier tot vyf keer sterker as behandelde dennehout. Dit kan dus beteken dat vervaardigingskoste drasties verlaag kan word, sê McGaffin. Die bome speel ook ’n belangrike rol in die landbousektor omdat hul blomme ’n belangrike bron van stuifmeel en nektar vir bye is. Bye is noodsaaklik vir die Wes-Kaapse vrugtebedryf.
Die Vergelegen-wynlandgoed is al ’n paar jaar lank streng met die volhoubaarheid van die plaas en sy projekte, sê me. Leslie Naidoo, handelsrisikobestuurder op die plaas. “Ons gaan die bloekomprojek fyn dophou om te sien wat die impak op die wingerde gaan wees.”