As die vyfde geslag wat boer op Eselfontein, ’n plaas van 2 500 hektaar in die Warm Bokkeveld by Ceres, is mnr. Deon Malherbe baie bewus daarvan dat hy iets bestuur wat hy nie self staangemaak het nie, maar verantwoordelik is om dit volhoubaar te bedryf vir geslagte wat kom.
Ons staan op die wal van hul plaasdam – een van die grootstes in die omgewing – en kyk uit oor Eselfontein. “Hieruit moes my broer en suster se plase gekoop word. Toe ek oorneem, het ek dus daarop gekonsentreer om eerder die plaas te hernu as om groter te gaan. Meer hektare is nie noodwendig beter nie. My pa se woorde was altyd om te groei met maksimum wins tot ’n volhoubare toekoms.
“Dit is nou my beurt om die plaas te verbeter vir die volgende geslag sodat hulle ook ’n volhoubare toekoms het. Jy kan nie aanpas by geld nie, maar alles moet teruggeploeg, verbeter en vorentoe geneem word. My doel is om Eselfontein tot sy volle potensiaal uit te brei. Ek dink daar is nog geleentheid om waarde toe te voeg tot die melkery en die kersies.”