
Mnr. Conrad Schutte, hoof van Vinpro se konsultasiedienste, sê buiten die Klein-Karoo-streek word die wyndruifoes in ál die wynstreke laer geskat as verlede jaar.
Die Noord-Kaap en Swartland se afname beloop waarskynlik dubbelsyfers, het hy op Vinpro se inligtingsdag in Kaapstad gesê.
“In die Noord-Kaapstreek is heelwat wingerde uitgehaal en weens beurtkrag gaan boere sukkel om die oorblywende wingerde te besproei. Die Swartland is ook hard geslaan deur droogtetoestande en sonbrand.”
Die Stellenbosse oes is ook kleiner.
“Die wingerde lyk goed op Stellenbosch, maar ek sien dat Cabernet sauvignon swak geset het en ook tekens van witroes toon. Op Robertson is die oes ook af. Dis deels weens die droogte, maar ons sien ook minder trosse aan Colombar-wingerde, wat ‘n groot deel van die produksie uitmaak.”
Druiwe in die Paarl het deurgeloop weens droër toestande, sonbrand en witroes. Op Worcester en in die Breedekloof was dit ook ’n droër seisoen en sonbrand word opgemerk. Boere in dié omgewing maak staat op besproeiing, wat moeilik is tydens beurtkrag.
In die Olifantsrivier is sowat 5 000 ton druiwe beskadig weens vloede. Wingerde wat uitgehaal is, en siektes het ook ’n groot invloed op die verwagte oes in dié streek.
In die Klein-Karoo verwag boere beter oeste danksy jong wingerde wat in produksie kom, en ’n voldoende watervoorraad.
Só verloop seisoen
Volgens Schutte het wynboere ná die vorige oes genoeg water gehad vir na-oesbesproeiing, al was damvlakke toe reeds later. Boere het egter minder bemes, weens kontantvloeiprobleme.
Die Kaapse winter was op plekke soos Durbanville, Darling en die Paarl nie so koud soos gewoonlik nie en reënval ook laer. Stellenbosch het byvoorbeeld 260 mm reën minder gehad as die langtermyngemiddelde.
Hoewel die wingerde goed geset het, het wingerdboukundiges oor ’n wye gebied swak set aangeteken. In die Paarl was dit veral opvallend onder Grenache-druiwe en op Stellenbosch by Cabernet sauvignon-druiwe.
“Ons dink dit het te make met die vinnige vegetatiewe groei in dié tyd. Boere was ook nie bewus van die droë toestande nie, wat tot stres in die wingerd gelei het.”
Druiwe het vroeg, maar gelyk deurgeslaan (van kleur verander), wat gewoonlik ’n goeie aanduier van gehalte is, sê Schutte.
“Die patroon van deurslaan was wel anders. Cabernet sauvignon het byvoorbeeld voor Merlot deurgeslaan. Dit kan ook lei tot ontwrigings in die volgorde van oes, veral in sekere areas.”
Die huidige somer het vroeg in Desember bogemiddeld baie reën opgelewer, wat die watertafels gevoed het, maar ook tot hergroei gelei het. Dit het ekstra arbeid in die wingerd geverg. Boere moes ook swamsiektes soos donsskimmel en witroes bekamp.
Min verligting
Volgens dr. Tara Southey, navorser aan die Universiteit Stellenbosch, word warmer as normale maksimum temperature in die aanloop tot herfs verwag. ’n Natter midsomer word in die Suidwes-Kaap verwag, gevolg deur ’n droër as normale herfs en vroegwinter.
Schutte het dus gemaan dat boere nie juis verligting kan verwag in die vorm van reën nie.
“Besproeiingskedulering sal slimmer gedoen moet word,” was sy raad.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.