Die mark vir vlugtige oliesoorte groei steeds. Dit bied groot moontlikhede vir produsente wat ál die vereistes in dié bedryf nakom. Volhoubare produksie en naspeurbaarheid is twee van die vereistes wat vir 'n suksesvolle boerdery geld.
Dié bedryf verg 'n hoë mate van tegniese vaardigheid en kennis en is nie geskik vir mense wat vinnig geld wil maak nie.
Drie deurslaggewende faktore bepaal finansiële welslae: Die keuse van plantmateriaal, die produksiepraktyke en die distillasietegnieke.
Om die beste uit 'n vlugtige-olieboerdery te haal, moet die infrastruktuur doeltreffend benut word deur die plantmateriaal aan te pas by produksie- en distillasiepraktyke wat binne die boer se finansiële beperkings moet geskied. Geen aspek is in isolasie - dit moet beoordeel word as deel van 'n groter oliebedryf.
Die belangrikste en deurslaggewendste faktor in die finansiële winsgewendheid van 'n spesifieke gewas, is die keuse van plantmateriaal. Dít het die grootste enkele invloed op die persentasie olie, opbrengs, gehalte en prys, wat juis die faktore is wat die grootste invloed op omset en wins het.
As 'n boer nie met die korrekte plantmateriaal begin nie, kan nóg uitstekende produksiepraktyke nóg uitstekende distillasiemetodes die verkeerde keuse regstel.
'n Voornemende produsent moet onthou dat die gewasse wat die beste in 'n bepaalde gebied aard, reeds bekend is.
Die meeste plante bevat 'n vlugtige olie. Die vraag is egter of dit kommersieel en winsgewend geproduseer kan word. Elke plantgroep het sy eie unieke samestelling wat die olieprofiel bepaal. Hierdie profiel word nie beduidend deur eksterne faktore beïnvloed nie.
Dit geld ook spesifieke kultivars - elkeen het sy eie, unieke samestelling van vlugtige olie en oliepersentasies wat amper soos 'n meesterplan vir identifikasie gebruik kan word. Die persentasie olie word gewoonlik bereken op grond van die gewig van die vars plantmateriaal, maar kan ook bereken word op grond van verlepte of gedroogde plantmateriaal.
Hoe hoër die oliepersentasie, hoe meer olie kan bemark word, met 'n gevolglik hoër omset en wins. Hierdie vergelyking geld natuurlik net as plante van dieselfde groep vergelyk word.
Plantmateriaal beïnvloed die opbrengs van die gewas as gevolg van intrinsieke generiese eienskappe. Die faktore wat die grootste invloed op opbrengs het, is die plant se grootte, vegetatiewe groei en groeiwyse.
'n Kleiner soort plant wat stadiger groei, sal uiteraard 'n laer opbrengs hê as 'n groot, aggressiewe groeier wat selfs meer as een keer in 'n jaar geoes kan word. Die lewensiklus van die plant speel ook 'n belangrike rol.
Die soort vlugtige olie, en derhalwe die gehalte, word net deur die plantmateriaal bepaal. Verskillende kultivars produseer verskillende olie en van wisselende gehalte. Die gehalte en vraag na 'n spesifieke olie bepaal regstreeks die onderhandelbare prys. Sou daar niks met die vraag verkeerd wees nie, is gehalte die volgende aspek wat die prys bepaal.
Die keuse van die regte plantmateriaal met
betrekking tot oliepersentasie kan volgens drie verskillende soorte laventel
verduidelik word. Lavandula angustifolia (maillet) behoort gemiddeld
0,8 % olie te gee, Lavandula x intermedia (grosso) 1,8 % en
Lavandula allardii
(African pride) 0,8 %. Dit is duidelik dat die tweede soort die grootste hoeveelheid olie per kilogram plantmateriaal sal lewer.
Vergelyking
Die opbrengs van dié drie soorte, sowel as die gehalte en
prys, moet nou ondersoek word om 'n regverdige vergelyking te doen. Net op grond
van opbrengs sal laasgenoemde twee kultivars die beste keuse wees (9 ton/ha),
maar as die persentasie olie per kilogram in berekening gebring word, sal
Lavandula x intermedia
(grosso) meer olie lewer.
As net na die prys gekyk word, is Lavandula
angustifolia
(maillet) - met 'n konserwatiewe grootmaatprys van $45/kg (R450/kg teen 'n wisselkoers van R10 per dollar) - die eerste keuse.
Indien die oliepersentasie, opbrengs en olieprys egter in
ag geneem word, is dit duidelik dat Lavandula x intermedia
(grosso) die beste keuse is, met 'n totale omset wat meer as dubbeld is as dié van die ander twee soorte.
Nismarkte en waardetoevoeging kan die eenheidsprys dramaties verander, maar dit word nie gebruik as 'n volhoubare vergelyking nie.
Hoewel dit nooit die intrinsieke eienskappe van die plantmateriaal kan verander nie, speel produksiepraktyke 'n betekenisvolle rol in die bepaling van die persentasie olie, opbrengs, gehalte en prys.
Om die beste olie-opbrengs te kry, moet die volgende
nagekom word:
- 'n Eenjarige plant moet in die regte stadium geoes word.
- Meerjarige gewasse moet die regte tyd van die jaar
geoes word.
- Oestyd moet tydens optimum weerstoestande vir die
plant wees.
- Die tydsduur tussen oestyd en distillasie moet reg
bestuur word.
- Die produksiefaktore wat die opbrengs beïnvloed, is:
- Die beste plantmateriaal vir spesifieke
klimaatstoestande.
- Die korrekte voorbereiding van die grond en die
regstel van tekorte.
- Die bestuur van waterbehoeftes.
- Korrekte oesprosedures en korrekte snoei en onderhoud.
Die gehalte van vlugtige olie kan ernstig deur produksiepraktyke beïnvloed word. As die gehalte beïnvloed word, geld dit ook die prys. 'n Gewas wat gewoonlik 'n uitstekende olie lewer en ook die beste inkomste bied, kan só deur swak produksiepraktyke benadeel word dat die olie in die grootmaatmark vir mediumgehalte-oliesoorte bemark moet word waar die produsent se onderhandelingsinvloed min is.
Die regte deel van die plant wat geoes word en die regte oestyd is die twee faktore wat die grootste invloed op gehalte en dus prys het.
Hoewel produksiemetodes 'n belangrike rol speel in die verfyning van olie van hoë gehalte, speel distillasiemetodes en tegnieke 'n deurslaggewende rol. Om 'n distillasie-eenheid saam te stel wat ekonomies en doeltreffend werk, verg 'n hoë mate van kundigheid ten opsigte van die distillasieproses en die plantmateriaal.
Die tegniese behoeftes van die verskillende gewasse kan
drasties verskil, maar as algemene riglyne kan die volgende geld:
- Die spesifieke ontwerp van die distilleerder word bepaal deur die gehalte
en hoeveelheid van die plantmateriaal wat verwerk moet word. Onder die
belangrike eienskappe is die posisie van die olieselle (oppervlakkig of
versink binne die plantmateriaal), die struktuur van die geoeste
plantmateriaal (blomme, blare, stammetjies, harige blare) en die voginhoud van
die plantmateriaal.
- Die eienskappe van die olie bepaal die ontwerp van die skeier.
Verskillende oliesoorte word teen verskillende temperature geskei. Die
hoeveelheid en persentasie olie sal ook 'n invloed op die ontwerp hê.
Hierdie faktore bepaal die skeier se spesifikasies, soos die temperatuur en vogtigheid van die stoom, die hoeveelheid stoom benodig per tydinterval, die grootte van die kondenseerder, die totale vermoë en die totale distillasietyd.
Die verfyning van distillasietegnieke is belangrik vir enige vlugtige-oliegewas, maar in geval van duurder oliesoorte is dit nog belangriker.
Me. De Bruyn is verbonde aan Herbs Aplenty, 'n maatskappy wat hom toespits op vlugtige olie.
28
Februarie 2003