
Die Wes-Kaap se departement van onderwys het hierdie syfers vroeër vandeesweek voorgelê op ’n vergadering van die staande komitee oor onderwys. Die nasionale voedingsprogram vir skole en die voedingsprogram wat by skole in die Wes-Kaap aangebied word, is op die vergadering bespreek.
In die huidige boekjaar is meer as R451 miljoen vir die nasionale voedingsprogram begroot. Die program sluit 1 024 skole in en voed 507 332 kinders.
Baartman sê hoewel hierdie program verseker dat minder kinders honger ly, is die DA bekommerd oor die nasionale kwintielstelsel wat veroorsaak dat sommige leerders by dié programme uitgesluit word.
Volgens hierdie stelsel word skole op grond van hul ligging in vyf groepe verdeel met kwintiel 1 as “armste” en kwintiel 5 as “minste arm”. Hierdie stelsel neem egter nie die maatskaplik-ekonomiese status van leerders in ag nie en daarom word geld volgens Baartman ondoeltreffend deur provinsiale departemente toegewys.
“Die nasionale voedingsprogram voorsien slegs vir kwintiel 1- tot kwintiel 3-skole, wat beteken dat minderbevoorregte leerders in ander kwintiele nadelig geraak word. Danksy besparings deur die nasionale voedingsprogram kan die Wes-Kaap se departement van onderwys vir 190 dae van die jaar ook geld aan kwintiel 4- en kwintiel 5-skole voorsien.”
Baartman sê die DA doen ’n beroep op die regering om die kwintielstelsel te hersien sodat voorwaardelike finansiering soos die nasionale voedingsprogram vir skole ’n groter impak op leerders kan hê. “Dit is noodsaaklik dat kinders ordentlik gevoed word sodat hul groei nie belemmer word nie en hulle op ’n holistiese manier kan leer.”