Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het onlangs die biodiversiteitsbestuursplan vir die bitteraalwyn en die heuningbossoorte Cyclopia subtenata en Cyclopia intermedia ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Wet 107 van 1998, Nemba) in die Staatskoerant afgekondig.
In die dokument stel me. Barbara Creecy, die minister, die Oos-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme aan om die plan vir bitteraalwyn in te stel.
Dié departement sal saam met die Wes-Kaapse departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning verantwoordelik wees vir die toepassing van die plan vir die twee heuningbossoorte. Hulle sal ondersteun word deur die heuningbosgemeenskap en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake.