Ná meer as twee dekades waarin Badenhorst betrokke was by ’n landbou-ekonomiese normstellingstudie waar die syfers van sowat 45 plaaseenhede in die EGVV-gebied (Elgin, Grabouw, Villiersdorp en Vyeboom) ontleed word, kan hy tereg sê: Boere wat lê in die boonste kwart van die winsgewendheidsindeks van die Badenhorst Bible (soos boere onder mekaar na die studie verwys), het in 2015 en 2016 onderskeidelik sowat R50 000 en R41 000 per hektaar méér wins gemaak as die groepsgemiddelde.
“Ons kan met vers en kapittel bewys wat groter wins aandryf. Dis tonne, tonne en tonne.”
Volgens hom word beter inkomste in vrugteboerdery aangevuur deur produksie per hektaar, die gehalte van produksie en koste per hektaar.