Die keuses wat die boer nou maak oor watter kultivars hy uithaal of aanplant, gaan gevolge vir die volgende 20-30 jaar hê. Hy moet dus seker maak van die kouebehoeftes en verkleuringsvereistes, of dit selfs oorweeg om na ander vrugtesoorte, soos steenvrugte, oor te skakel as hy in ’n gebied boer waar iets soos appelproduksie riskant kan raak.
Só het prof. Stephanie Midgley, ’n wetenskaplike van die Wes-Kaapse departement van landbou wat in klimaatsverandering en risikobepaling spesialiseer, tydens die Hortgro-simposium se webinaarreeks gesê.
Volgens Midgley is goeie beplanning vir doeltreffende watergebruik in die toekoms nou baie belangrik. “Die eerste stap vir enige boer is om gewapen te wees met genoeg inligting vir die spesifieke gebied. Jy moet jou plaas se mikroklimaat verstaan.