
Dit is wat vasgestel is toe die Wes-Kaapse departement van landbou ’n opname by vrugteprodusente gedoen het om vas te stel wat hul waterbehoeftes is en hoe ’n waterkwota van 60% minder ingestel gaan word.
Die gevolge vir waterbeperkings laat nie net die bedryf ’n produksie-insinking beleef nie, maar kring ook uit tot werksverliese. Moontlike werksverliese word op sowat 36 000 geskat. Boonop sal die sektor ’n baie waardevolle aandeel in die uitvoermark vir vrugte verloor.
Mnr. Darryl Jacobs, Wes-Kaapse adjunkdirekteur-generaal vir landbou, sê die provinsie se landbou dra R18,6 miljard of ’n bruto waardetoevoeging van 22% tot die land se landbousektor by. Dit verskaf ook meer as 460 000 werksgeleenthede. Inkomste uit die uitvoer van landbouprodukte is meer as R40 miljard.
Jacobs het uitgewys dat om die waarde van water vir die sektor te verstaan moet gefokus word op die breë ekonomie, arbeid, uitvoer, belegging en ander gevolge. Die provinsiale landbou maak jaarliks gebruik van 216 miljoen kubieke meter water.
Teen 16 Oktober was die damvlakke in die provinsie 35,5% teenoor 62,4% die ooreenstemmende tyd verlede jaar, wat op kritieke watertekorte dui.
In die landbousektor wissel
waterbeperkings tans van 50% tot meer as 80%, sê Jacobs. Die Laer
Olifantriviergebied, wat Clanwilliam, Klawer en Vredendal insluit, is byvoorbeeld
slegs 17,5% van sy normale watertoelaag toegestaan.
Opname
As ’n uitvloeisel van die huidige waterbeperkings is ’n opname gedoen by 106 vrugteprodusente, waarvan 31% tafeldruiwe produseer, 31% wyndruiwe, 15% steenvrugte, 8% bessies, 7% sitrus, 7% kernvrugte en 1% eksotiese vrugte. Een van die vrae wat in die opname gevra was, is dat indien die watertoevoer tot 60% beperk word, wat die impak op plaasvlak sal wees.
Die uitslag was dat die gemiddelde produksie met 36,9% sal daal.
Dit beteken ’n afname van R4,96 miljard (of 27% van die Wes-Kaap se landboubedrywighede) in die bruto waardetoevoeging vir die 2017-’18-boekjaar. Die moontlike werksverliese word op bykans 36 000 geskat en die sektor sal ’n baie waardevolle aandeel in die uitvoermark vir vrugte verloor. Sowat 6% sal gedwing wees om hul besighede weens bankrotskap te laat vaar.
Om hierdie impak te versag, sê Jacobs, word die Fruitlook-program ingespan. Die program help vrugteboere om besproeiing met die hulp van satelliettegnologie te doen. Die Nasionale Tesourie het ’n bykomende R8,8 miljoen daarvoor bewillig. Die provinsiale departement is ook intussen besig met die uitrol van sy raamwerk vir klimmaatsverandering en die implementeringsplan daarvan. Doelgerigte navorsing om die sektor te ondersteun word ook gedoen en daar word op bewaringslandbou gefokus. Hy het reeds sowat 1 500 boere en 90 000 vee met droogteverliging van R67 miljoen ondersteun.