
Makadamiakwekers reg oor die wêreld kan nou voordeel trek uit die internasionale liggaam wat hom gaan beywer vir die bemarking en markontwikkeling van dié neutgewas. Die Wêreldmakadamia-organisasie (WMO) het op 16 September amptelik die lig gesien en sal help om ’n vraag na makadamianeute te bestuur. Die produksie van dié neute sal na verwagting teen 2030 verdriedubbel tot 600 000 ton/jaar.
Die WMO, met sy hoofkantoor in Singapoer, se doel sal wees om seker te maak die neut behou sy status as hoëwaardeproduk met so ’n snelgroeiende aanbod.
Me. Jillian Laing, uitvoerende hoof van die WMO, het goeie ervaring van voedselbemarking en het reeds aangedui dat sy aanvanklik wil konsentreer op die gesondheid, luuksheid en natuurlike heilsaamheid van makadamias. Sy glo die neut is die antwoord vir verbruikers wat al hoe meer bedag is op die voedingswaarde en gesondheid van hul kos.
Die WMO is ’n organisasie sonder winsoogmerk met mnr. Larry McHugh as voorsitter. Twee Suid-Afrikaners, mnre. Myles Osborn en Pieter van der Westhuizen, dien ook in die raad. Die organisasie bestaan tans uit lede van Suid-Afrika en Australië, maar hoop om binnekort lede uit ander makadamiaproduserende lande te werf.
Kontak info@worldmacadamia.com vir nog inligting.