
Só het mnr. Cedric Porter, redakteur van World Potato Markets, ’n weeklikse markinligtingsdiens, op Aartappels Suid-Afrika se jaarkongres en moerkwekersforum in Kempton Park gesê.
“Ons is baie afhanklik van ’n paar lande om die wêreld se aartappelprodukte te verskaf. Daar is genoeg ruimte op die mark vir ander lande om ’n groter rol te speel.”
Porter het lof gehad vir Suid-Afrikaanse boere se opbrengs van gemiddeld 50 t/ha, wat beteken hulle vergelyk goed met die beste boere van Europa en Noord-Amerika, asook die groei in opbrengs.
Die hoeveelheid hektare wat beplant word, het van 2011 tot 2021 min of meer dieselfde gebly, maar die opbrengs, gemeet in ton per hektaar, het met sowat 24% gestyg. Dit is volgens hom indrukwekkend vergeleke met internasionale groei van minder as 10% in daardie tyd. Porter reken daar is potensiaal om die hoeveelheid hektare uit te brei, mits die vraag ook groei.
Hele jaar vars aartappels
Anders as ander aartappelproduserende lande lewer Suid-Afrikaanse boere die hele jaar vars aartappels, wat volgens Porter ’n groot voordeel is.
Porter, wat van Brittanje is, het gesê die hektare met aartappels in dié land en die Europese Unie (EU), asook die produksie het oor jare minder geword. Vanjaar se oes kan weens droogte en baie hoë temperature in Europa die kleinste in dekades wees. Die aartappels is kleiner, die opbrengs is laer, en in Europa is daar volgens hom nie soveel geleenthede vir besproeiing soos in Suid-Afrika nie.
Europese produsente verskaf ’n groot deel van die volume aartappels wat internasionaal verhandel word, spesifiek bevrore aartappelskyfies, en die klein oes sal ’n groot uitwerking op die internasionale aanbod hê. “Dit gee julle waarskynlik ’n geleentheid vir hierdie jaar.”
Hoë insetkoste sal volgens hom in die volgende aartappelseisoen Europese boere se plantbesluite ten gunste van grane beïnvloed, ondanks hoë aartappelpryse. Benewens die styging in kunsmispryse is energiepryse ook baie hoër en boere het energie nodig om aartappels in opberging te verkoel.
Aartappelprodusente in Amerika het ook weens warm toestande ’n moeilike seisoen gehad en ’n klein oes word verwag.
Intussen bly die internasionale vraag sterk en groei die handel in bevrore aartappelprodukte jaarliks met sowat 10%.
Om ’n aanleg vir die verwerking van aartappels in bevrore aartappelskyfies op te rig, is baie duur. Porter sê in Europa gaan verwerkers dié seisoen en dalk ook die volgende paar jaar waarskynlik nie genoeg aartappels vir verwerking hê nie. Hy reken Suid-Afrika kan die oprigting van sulke aanlegte oorweeg, maar dit moet deur vraag aangedryf word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.