
Hy meen die sleutel tot dié sukses lê opgesluit in die mate waartoe tegnologie as katalisator aangewend kan word om netwerke en inligtingstelsels te bou. Hoewel hy nog nooit self geboer het nie, is hy al nagenoeg 30 jaar in die landbou betrokke. Die afgelope dekade was hy nou betrokke by die Land Bank as ’n werknemer en later as ’n onafhanklike konsultant in landboufinansiering. Hy het sy visie vir die aartappelbedryf met Landbouweekblad bespreek.
Wat is tans die grootste geleentheid in die aartappelbedryf?
Die gebrek aan betroubare inligting en die koppeling van inligting aan albei kante van die transaksie is tegelyk die grootste geleentheid én bedreiging binne ons bedryf. Geen bemarkingsmeganismes behoort pryse te benadeel as daar voldoende inligting is nie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is die voordeel wat ’n vaste produksiekontrak vir finansiers, produsente en die verbruiker inhou. Ons bedryf kan egter nie in geheel op vaste kontrakte funksioneer nie en dit is waar die gebrek aan inligting die boer benadeel.
Dikwels is daar produsente wat regdeur die seisoen alles reg doen, goeie gehalte aartappels produseer en dit mark toe ry – net om ’n swak prys te behaal. Meer bruikbare en akkurate inligting oor neigings op die mark en kopers- en verbruikersgedrag moet aan produsente beskikbaar wees en dís waar ’n gulde geleentheid is.
As jy met ’n arendsoog na ons bedryf kyk, gaan jy ’n gekonsolideerde, komplekse prentjie sien met talle faktore wat die prys en verbruik van aartappels beïnvloed, maar nie noodwendig die redes vir hulle ontstaan nie. Wanneer jy in die aartappelland stap, gaan jy ’n gedetailleerde prentjie sien, wat baie van die oorsake van daardie faktore kan uitwys. Ons moet hierdie twee wêrelde, ten opsigte van bemarking deur goeie intelligensiestelsels, nader aan mekaar bring.
Hoe gaan hierdie inligting boere help om wins te maak in ’n bedryf waar pryse baie wisselvallig is en produksiekoste voortdurend styg?
Stygende produksiekoste en die kosteknyptang is probleme, maar daar is reeds en word steeds uitstekende werk gedoen om produksiekoste laer te bestuur. Dink maar aan die toename in gemiddelde opbrengs, verbeterde gehalte en raklewe van aartappels en die kultivarnavorsing en ontwikkeling in elke streek waar jaarlikse proewe gedoen word. Ons gaan egter nie winsgewendheid kan verseker deur bloot op die produksiekant te konsentreer nie.
Ons moet ons fokus verbreed na die verkopekant toe ook en dit beslaan twee aspekte. Eerstens moet ons akkurate, intydse intelligensie oor die markplek ontwikkel en dit kan versoen met die produksievooruitsigte op elke plaas. Ons kan ’n groot verskil op plaasvlak maak as ons lede akkurate inligting het oor die volume en tydsberekening van produksie, en die potensiële invloed daarvan op ’n spesifieke boerdery in ’n spesifieke ligging.
Terselfdertyd het produsente beter en meer betroubare logistieke en bemarkingsinligting nodig. Die tegnologie bestaan reeds om hierdie inligting te verkry en in intelligensie te omskep. Ons moet dit bloot op ’n produktiewe, betroubare manier verwerk.
Tweedens moet ons moeite doen om die verbruik van aartappels te bevorder. Dit kom neer op volgehoue verbruikerbewusmaking van aartappels. As aartappels deurentyd in die voorpunt van die verbruiker se gedagtes is, sal ons ’n toename in verbruik sien en dit sal oorspoel in beter pryse en ’n aantrekliker bedryf.
Die aantal kommersiële aartappelprodusente het oor die afgelope twee dekades weens ekonomiese druk van meer as 2 000 gekrimp tot net meer as 570 tans. Tog, as deel van die transformasie-agenda, is daar ’n verwagting dat nuwe produsente gevestig moet word. Hoe gaan dit gedoen word?
Daar is genoeg voorbeelde van suksesvolle nuwe toetreders om optimisties te bly oor transformasie en die vestiging van nuwe kommersiële boere. Nuwe toetreders gaan oor meer as bloot transformasie.
Ons wil die aartappelbedryf só inrig dat dit aantreklik is vir alle jong boere wat soek na ’n geleentheid om op ’n winsgewende manier hul passie uit te oefen. Indien die regte strategieë gevolg word, die regte vennote vir so ’n jong boer gekies word en daar genoeg tyd toegelaat word, is sukses bykans gewaarborg. Ons moet geduldig wees en verwagtinge beter bestuur.
Die invoer van bevrore skyfies, veral uit Europa, is ’n groot bedreiging vir die plaaslike bedryf. Watter salf is hieraan te smeer?
Dit is vir my ’n nuwe probleem, maar binne ASA is reeds baie waardevolle werk in hierdie opsig gedoen. Tydens die voortslepende Covid 19-pandemie het dit duideliker geword wie die aktiewe markdeelnemers is, waar die produk vandaan kom en watter uitwerking dit op ons bedryf het.
Dit beteken ons kan met die verskillende belanghebbendes in die regering en die private sektor vergader om ’n beter begrip vir ons plaaslike bedryf te ontwikkel.