Eutypa-terugsterwing, of "tandpyn" soos boere dit dikwels noem, is een van die ernstigste wingerdsiektes in die Wes-Kaap, maar oordeelkundige bestuurspraktyke en voorkomende snoeiwondbehandeling kan dié pyn vir boere baie verminder.
Snoeityd is om die draai en die wingerdsiekte
Eutypa
-terugsterwing gaan gewoonlik hand aan hand daarmee.
Mnr. Francois Halleen en dr. Paul Fourie, albei senior
plantpatoloë van die afdeling siektebeheer van die LNR Infruitec-Nietvoorbij op
Stellenbosch, sê 'n swam, Eutypa lata
, is verantwoordelik vir dié siekte. Dit is wêreldwyd 'n probleem, want dit kom in ál die lande voor waar druiwe gekweek word. Dit het 'n wye gasheerreeks en kom ook op verskeie ander boomsoorte voor.
In Suid-Afrika is dit veral 'n probleem in wingerde, maar dit kom ook by appelkoos- en perskebome voor, waar dit dikwels groot skade veroorsaak. In 'n onlangse opname in 37 Cabernet Sauvignon-wingerde ouer as 10 jaar in die Stellenbosch-gebied, is bevind dat sowat 32 % van dié plante siektesimptome toon.
Wat die situasie vererger, is dat boere meestal nie weet wat die omvang van dié vernietigende siekte is nie, want simptome word dikwels eers waargeneem by plante ouer as 10 jaar, hoewel besmetting al vroeër plaasgevind het.
Dr. Fourie en mnr. Halleen sê boere word op verskeie maniere deur die siekte geraak: Die swam vernietig die houtdeel van 'n druiwestok, verdwerg en misvorm nuwe groei, en vernietig trosse. Dit laat die totale groeikrag en opbrengs van die wingerd (of vrugteboom) afneem en stokke begin uiteindelik vrek.
In sekere gevalle, waar trosse wel op aangetaste lote vorm,
kom klein en groot korrels in dieselfde tros voor. Dié korrels word natuurlik op
verskillende tye ryp, wat die gehalte van die wyn wat van sulke druiwe gemaak
word, erg benadeel. Eutypa
-terugsterwing raak dus die produksie én leeftyd van 'n wingerd.
Mnr. Halleen en dr. Fourie sê die siekte ontstaan deurdat swamspore op vars snoeiwonde beland, waar dit ontkiem en in die vaatbundelstelsel van 'n wingerdstok groei. Die swam stel 'n toksien, eutypien, in die vaatbundels vry, wat verantwoordelik is vir die tipiese blaar-, loot-, en blom/tros-afwykings.
Simptome
Boere moet egter ook besef dat dié toksien in die "arm" van die druiweplant geproduseer word en daarvandaan na die lote vervoer word, waar die simptome uiteindelik waarneembaar is.
Spore wat die besmetting veroorsaak, het hul oorsprong in flesvormige vrugliggaampies, bekend as perithecia, wat op kankers vorm wat ou snoeiwonde omring. Spore word veral in die winter tydens en ná reën in die lug vrygestel vanwaar wind en reën dit verder versprei.
Veral wingerdmateriaal wat ná snoeityd of wingerdvernuwing in die boord agtergelaat word, is 'n groot swambron en dié materiaal stel die meeste spore vry. In die Wes-Kaap is dit algemene praktyk om druiwestokke wat uitgehaal word, op hope te plaas om later verbrand te word. Hierdie hope is egter dikwels tussen ander wingerde, en dié spore kan etlike kilometers deur wind in die omliggende wingerde versprei word.
Navorsing
deur die LNR Infruitec-Nietvoorbij het getoon dat verskeie ander swamme ook
snoeiwonde kan besmet, waaronder Phaeomoniella chlamydospora
, die swam wat verantwoordelik is vir die siekte Black Goo.
Botryosphaeria
-spesies, wat verantwoordelik is vir verskeie kanker- en verrottingsiektes by druiwe, is ook redelik onlangs - met die samewerking van die departement Plantpatologie aan die Universiteit van Stellenbosch - gevind in snoeimateriaal wat in wingerde agtergelaat word.
Sanitasie is dus uiters belangrik om ino-kulumdruk van
verskeie patogene organismes te verminder.
Meer inligting kan van mnr. Francois Halleen by tel. 021 809 3040, of dr. Paul Fourie by tel. 021 809 3104 gekry word.
Voorkoming die beste genesing
Voorkoming van besmetting is beslis die beste manier om Eutypa-terugsterwing te bestry, sê dr. Paul Fourie en mnr. Francois Halleen.
Strestoestande in 'n wingerd moet deurgaans voorkom word, want dít veroorsaak dat stokke gevoeliger is vir siekte-ontwikkeling. 'n Belangrike aspek is die voorkoming van snoeiwondbesmetting. Dit word gedoen deur snoeiwonde regstreeks ná snoeityd met 'n fungisied of wondseëlmiddel te bespuit of toe te verf.
Verskeie biologiese bestrydingsmiddels (veral Trichoderma spp.) is ook beskikbaar vir snoeiwondbehandeling. Kenners beveel aan dat boere nie in reënweer snoei nie. Die spore wat snoeiwonde besmet, word juis in sulke nat toestande vrygestel.
Dr. Fourie en mnr. Halleen beveel vernuwing van besmette stokke sterk aan, veral waar net een arm aangetas is.
Voorts moet boere alle besmette dele verwyder, want die swam kan in sigbaar gesonde hout langs hout met simptome voorkom. Daarom moet 'n verdere 100 mm verwyder word, en dié wonde moet dadelik behandel word om nuwe besmetting te voorkom. Besmette stokke kan ook in die winter bokant die entlas afge-sny en behandel word. 'n Loot wat in die volgende groeiseisoen ontwikkel, kan gebruik word om die stok te hernu. Aangetaste hout én snoeimateriaal moet verwyder en dadelik verbrand word om die bron van die swam in 'n wingerd te verminder.
21 Junie 2002