
Ongunstige weersomstandighede kan wynproduksie in Europa vanjaar met sowat 4% laat inkrimp. Mnr. Conrad Schutte, bestuurder van Vinpro se konsultasiediens, sê dit bied ’n geleentheid wat plaaslike produsente ’n hupstoot kan gee.
“Dit is nog vroeg, maar ons verwag vanjaar ’n goeie oes. Die syfers van die internasionale organisasie vir wingerd en wyn dui aan dat wêreldwye wynproduksie op ’n laagtepunt is, veral weens die ongunstige toestande in Europa. Die vooruitskatting van wêreldwye wynproduksie vir 2021 is 250 miljoen hektoliter, wat ’n afname van sowat 4% teenoor 2020 en 7% onder die 20-jaar-gemiddelde is. Dit kan ’n geleentheid in uitvoer bring, mits ons die logistieke probleme op die hawens en met skeepsvraghouers kan oplos.
“Die waarde van plaaslike uitvoer is nietemin aan die groei. Die vyf kultivars wat verlede jaar vir die hoogste vry-aan-boord uitvoerwaarde verantwoordelik was, is Sauvignon blanc, Chenin blanc, Chardonnay, Shiraz en Pinotage. Die bestemmings wat waardegewys die meeste van Suid-Afrikaanse wyn aangekoop het, is Brittanje, Duitsland, Amerika, Nederland en Kanada.”
Wisselvallige plaaslike weerstoestande
Plaaslike produsente het egter nie die wisselvalligheid van die weer vrygespring nie, hoewel dit tans nog nie op skade behoort uit te loop nie. “Vonkelwyne is die eerste druiwe wat gepars word en die begin van hierdie parstyd is tradisioneel van 16 tot 20 Januarie. Die koel weerpatroon kan meebring dat die suikergehalte laer as normaal is en die fenologiese rypheid vertraag word, wat beteken produsente moet langer wag voor hulle begin pars. ’n Verdere risiko is dat een of twee warm dae tussen die koeler dae kan lei tot vals hoë suikerlesings. Dit kan meebring dat boere druiwe van ’n suboptimale gehalte begin pars.
“Die koeler weer kan ook gunstig wees, aangesien dit die geurkomponente in die druiwe beter bewaar. Indien dit reg bestuur word, kan die gehalte van vanjaar se druiwe uitstekend wees.
“Onkruidbekamping is egter ’n groter probleem as normaalweg weens die somerreën. Dit belemmer lugbeweging wat ’n bedreiging van donsige skimmel en witroes meebring. Onkruid- en swambestuur is uiters belangrik, maar ook ’n bykomende uitgawe vir wynboere.”
In Desember 2021 was daar plaaslik sowat 75 miljoen liter ongekontrakteerde wyn. Hoewel dit aansienlik minder is as die 200 miljoen liter wat in 2020 ongekontrakteer was, is dit steeds nie goeie nuus vir die bedryf nie. “Met die geskatte oesgrootte gaan daar heel moontlik weer produsente wees wat eerder sapkonsentraat gaan maak.”