Aanvaar die werklikheid en reageer op dit wat is, pleks van jou verwagting van wat moet wees. Dit klink dalk soos notas uit ’n mindfulness retreat of leierskapskursus. Dit is nie. Dit is ’n les wat produsente, werkers en wynmakers die afgelope oesjaar geleer het. Dit was ’n oesjaar van persoonlike groei.
Gebore uit worsteling, struikelblokke en nuwe paradigmas. Ook, dit is die lewe. Water is ’n kernkenmerk van hierdie oesjaar. Die tekort daaraan om mee te begin, en die oorvloed daarvan teen die einde. Ons het met ’n besondere droë winter begin.
Die winterreën is die hoofbron van vog vir ons Wes-Kaapse grond, veral in die kusstreke. Winterreënval was net 50% tot 60% van die langtermyn-gemiddelde en op sommige plekke minder as tydens die droogtejare van 2017-’18.