Vanaf 8 Desember vanjaar is dit verpligtend vir alle drankprodukte wat in die EU verkoop word, om die voedingswaarde en ’n lys van bestanddele aan te dui, hetsy op die etiket of deur ’n QR-kode op die etiket. “Ons weet nou al geruime tyd hiervan, maar vanaf Desember sal dit ’n werklikheid wees.
"Dit kan finansiële implikasies inhou vir ouer wyne waarvan die etikette agterop die bottel verander sal moet word,” sê me. Maryna Strachan, kommunikasiebestuurder van Wosa, die liggaam wat verantwoordelik is om Suid-Afrikaanse wyn in die buiteland te bemark.
Die wyn-en-spiritusraad en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het egter blitsig gereageer toe die regulasies aanvanklik bekend gemaak is en ’n aanlyn platform ontwikkel wat Suid-Afrikaanse wyn- en drankbedryf sal help om aan die internasionale etiketwetgewing te voldoen. Dit heet DIGI-Label en is ’n gratis diens.