
Die internasionale mark is deesdae ’n slagveld vir plaaslike wyne. Suid-Afrikaanse produsente sukkel telkens om 50% van internasionale kelders se pryse met soortgelyke wyne te behaal.
Tog, volgens internasionale beoordelaars by die Old Mutual-trofeewynskou hoef Suid-Afrikaanse wyne nie die knie buig vir internasionale eweknieë nie, veral wat gehalte betref. Die tekortkoming is eerder die opleiding van die verbruiker en die bemarking van plaaslike wyne se karakter.
Volgens mnr. Simon Field, een van die internasionale beoordelaars op vanjaar se skou en ’n wynhandelaar in Brittanje, het die Rhône-kultivarwyne op vanjaar se skou baie beïndruk. Hy het veral die Roussanne uitgesonder. “Hier was ’n hele paar uitstekende Roussanne-wyne en die Mourvèdre was net so goed. Hierdie en ander sterk punte van die plaaslike bedryf moet met die verskillende internasionale markte se behoeftes verbind word en daardie eienskappe moet doeltreffender verkondig word.”
Uitstekende vernuftigheid
Die ervare Duitse wynbeoordelaar mnr. Kirk Bauer is beïndruk deur die Suid-Afrikaanse wynmakers se vermoë om sterk wynstyle te ontwikkel. “Dit is veral opmerklik hoe die twee Shiraz-style baie goed ontwikkel is. ’n Handjie vol van hierdie kultivars is in die elegante Syrah-styl en het uiters goed gevaar.
“Die meeste is egter in die sterk, kragtige, bykans peperige Shiraz-styl gedoen. Dit was werklik ’n goeie ervaring. Na my mening is Suid-Afrika die internasionale produksiestreek wat die beste ‘ouwêreld’-wyne produseer,” het hy gesê.
Field meen dat hierdie en ander sterk punte gebruik moet word om die bedryf te bemark.
“Ek meen die grootmaat-, boetiek- en eksperimentele wynsegment van Suid-Afrika praat nie genoeg met mekaar nie. Dit is kenmerkend van ’n ontwikkelende waardeketting waar produsente moet baklei vir markaandeel,” het hy gesê.
Gevaar van lae pryse
Volgens mnr. Michael Fridjon, plaaslike wynkenner en beoordelaar, is die gevaar van lae pryse vir uitstekende wyne in die buiteland, dat hierdie segment van die plaaslike bedryf nie meer ’n voortbestaan sal kan verseker nie.
“In daardie geval sal streke waar water beskikbaar is vir besproeiing en potensiële produksie per hektaar hoog is, die vernaamste produksiestreke word. Dit sal ’n jammerte wees, omdat dit beteken die streke waar die klimaat reg is vir uitmuntende wyne, weliswaar teen lae produksie per hektaar is, nie veel langer winsgewend kan produseer nie.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.