As jy deesdae in die vroeë oggendure, net ná 01:00, ’n oproep kry van die sekretaresse van die Ugandese president wat sê daar is vier nonne op die lughawe wat op pad na jou toe is, druk jy die foon dood en slaap verder. Maar dit was parstyd in 2005, en mnr. Philip Jonker (49) het op Bonnievale gewag vir die besoekers, wat ywerig was om te leer wyn maak
“Dit het op ’n baie vreemde manier by my uitgekom,” sê Jonker vandag laggend wanneer hy terugdink aan die oproep van pres. Yoweri Museveni se sekretaresse.
“Mr Jonker, the four sisters from Uganda have arrived. They are waiting for you at Cape Town International Airport.” Die volgende dag het Jonker die vier begin leer wyn maak.