
Die Kaapse Wynmakersgilde is twee nuwe lede ryker nadat mnre. Bartho Eksteen van Hermanuspietersfontein Wingerde en Miles Mossop van Tokara by dié uitsoekgroep ingesluit is.
Hulle is die 44ste en 45ste lede van die gilde.
Die gilde is volgende jaar dertig haar oud en ter viering daarvan is ’n nuwe lidmaatskapskategorie (vir tegniese lede) geskep. Dit huisves lede wat nie meer voldoen aan die vereistes vir die kategorie produserende lid nie, maar steeds ’n belangrike bydrae tot die bedryf lewer.
Lidmaatskap tot die gilde is slegs op uitnodiging. ’n Wynmaker wat met só ’n uitnodiging geëer word, moet minstens vyf jaar lank hoogstaande gehaltewyne maak. Die gilde poog om innovasie in die bedryf aan te moedig deur uitstekende, beperkte vrystellingswyne te produseer.
Eksteen, ook Diners Club se Wynmaker van die Jaar vir verlede jaar, het ’n passie vir Sauvignon blanc en hy is ook een van die leiers in die Sauvignon blanc-belangegroep.
Sy jaarlikse Sauvignon blanc Celebration het heelwat ondersteuners. Hy het ook die Diners Club Bartho Eksteen Wyn-akademie gestig. Sy wyne het al ritse toekennings ingepalm.
Mossop is aan die voortou van moderne wynmakery in Suid-Afrika en hy het bykans al die groot pryse wat ’n wynmaker kan wen, omhoog gehou.
Mnr. Louis Strydom van Ernie Els Wyne sal aanbly as voorsitter van die gilde. Mnr. Jeff Grier van Villiera sit in die ondervoorsitterstoel. Mnr. David Finlayson van Edgebaston is die nuwe tesourier. Mnr. Andries Burger van Paul Cluver Wyne neem die leisels oor as nuwe keldermeester, met mnr. Frans Smit van Spier as assistent-keldermeester.
13 Desember 2011