
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het die wynbedryf die groen lig gegee om voort te gaan met uitvoerbedrywighede ingevolge die vlak 4-regulasies wat tydens die grendelstaat geld.
Die wynbedryf het vyf taai weke agter die rug, met beperkte uitvoer wat slegs vir enkele dae toegelaat is voor dit weer opgeskort is. Honderde miljoene rande se inkomste is verlore, werkgeleenthede het in die slag gebly en salarisaanpassings is by verskeie kelders gemaak.
“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is verlig en waarlik dankbaar dat die regering besluit het om vervoerbeperkings op te hef,” lui ’n verklaring op Vinpro se webwerf.
Dít mag kelders doen
Volgens die wynbedryftaakspan mag die bedryf noodsaaklike verkrygings doen en met produksie voortgaan. Dit sluit in bottelering, etiketering en verpakking. Wyn mag ook na hawens en lughawens vervoer word vir uitvoer. Dit mag ook padlangs vervoer word vir uitvoer na buurlande.
Noodsaaklike ondersteuningsdienste, soos inspeksies en sertifisering vir Sawis en die departement van landbou, bosbou en visserye, mag ook voortgaan.
Die bedryf sal ’n veiligheidsprotokol instel om risiko’s reg oor die waardeketting te beperk.
“Ons werksmag, klante en verbruikers se veiligheid is uiters belangrik vir ons bedryf se langslewendheid.”
Teleurgesteld oor plaaslike mark
Die bedryftaakspan het wel sy teleurstelling uitgespreek dat wyn nie plaaslik verkoop mag word nie.
“Die bedryf het ’n voorstel gemaak om verkope op die plaaslike mark in te faseer. Die regering is egter bekommerd dat dit ekstra druk op die gesondheidstelsel kan plaas. In dié stadium sal alkoholverkope slegs ingevolge vlak 3-regulasies mag voortgaan. Daar is nie ’n spesifieke tydraamwerk wanneer vlak 3 ingestel sal word nie.”
Die taakspan bly egter in gesprek met die regering hieroor.