
Kleinhandelsyfers wat onlangs vir Brittanje vrygestel is dui aan dat die Suid-Afrikaanse wynmark die vinnigste groeiende wynmark in dié land is.
Luidens ‘n verklaring van Wines of South Africa, of WOSA, het die volume van Suid-Afrikaanse wyne wat in Brittanje verkoop word, verlede jaar tot 12,3% gestyg, van 10,4% in 2008.
Die Suid-Afrikaanse mark verskil slegs met 0,1% van die Franse mark, wat op 12,4% vir 2009 te staan gekom het. Die volume van totale verkope van plaaslike wyne in kettingwinkels in Brittanje het met 24% vergroot, terwyl die waarde daarvan met 23% gestyg het.
Volgens die jongste uitvoerstatistieke van Suid-Afrikaanse Wynbedryfsinligting en -stelsels (Sawis) het wynverkope verlede jaar met 11% gestyg in vergelyking met 2008.
Verheug oor groei, ondanks resessie
Me. Su Birch, die hoof uitvoerende beampte van Wosa, sê die feit dat dié groei tydens die wêreldresessie plaasgevind het, is ‘n teken dat daar vertroue in die land se vermoë om wyne van ‘n hoë gehalte te produseer, bestaan. Sy sê hulle is egter bekommerd oor die invloed van die ekonomie op winsgrense.
Volgens Birch is hulle baie beïndruk met die groei in die verkope van plaaslike wyne teen pryse van £5 en hoër. Sy sê die verkope van wyne in die pryskategorie tussen £5 en £6,99, het met 15% gegroei. Verkope in die pryskategorie tussen £7 en £9,99 het met 27% gestyg, terwyl die verkope van wyne van £10 of hoër met 43% gestyg het.
FirtsCape, Suid-Afrika se grootste handelsmerk in Brittanje, se jaar-op-jaar verkope het met 73% in waarde en 80% in volume toegeneem. Ander handelsmerke wat goed gevaar het is Kumala, Arniston Bay, Two Oceans en KWV.
Optimisme oor Sokker-wêreldbekertoernooi
Birch sê hulle is van mening dat die komende Wêreldbeker-sokkertoernooi aansienlike blootstelling aan die land en sy wyne sal gee; nie net wat Brittanje aanbetref nie, maar ook op ‘n wyer internasionale front. WOSA is ook van plan om promosies met spesifiek ‘n sokkertema aan te bied. Birch meen dat Suid-Afrika se wynmark vanjaar, met behulp van veral die toernooi, goeie groei sal toon en nuwe markte sal betree.
Intussen het ander lande ook strek groei in hul volumes van Suid-Afrikaanse wyne aangeteken. In Swede het die volume plaaslike wyne met 18% gegroei en in Kanada met 11%. In Holland, Duitsland en Amerika het die volumes onverandered gebly. Denemarke het ‘n daling van 5% aangeteken, maar dit is gekanselleer deur stygings in Finland en Noorweë. Japan, Nigerië, Angloa en China het dubbelsyfer-groei aangeteken.
21 Januarie 2010