
Die naam van die trofee vir die wêreld se top-Pinotage-wyn is na die Abraham Perold-trofee vir die Beste Pinotage verander. Luidens ’n verklaring van die Pinotage Assosiasie is die verandering tydens vanjaar se Internasionale Wyn- en Spiritualieë-kompetisie (IWSC) in Londen aangekondig. Die trofee se naam is verander om die “vader van Pinotage, Abraham Perold” te vereer.
Suid-Afrika se tuisgekweekte druifvariëteit Pinotage is in 1995 as ’n kategorie in die kompetisie bygevoeg. Sedert die instelling van die kategorie het Suid-Afrikaanse produsente nog elke jaar die trofee gewen. Vanjaar se wenner is die Rijk’s Private Cellar Pinotage Reserve 2006.
Pinotage is in 1925 deur prof. Abraham Perold by die Universiteit Stellenbosch gekweek met sy kruising van Pinot Noir en Cinsaut, wat die samestelling van die Pinotage-kultivar tot gevolg gehad het.
Die nuwe borge vir die trofee is Absa en die Pinotage Assosiasie. Mnr. Beyers Truter, voorsitter van die Pinotage Assosiasie, sê die trofee sal die skepping van die druifsoort simboliseer. “Dit sal in die internasionale arena dus ‘n groot rol speel om produsente wat absoluut topgehalte-Pinotagewyne berei, te vereer”.
KWV, eienaar van die Abraham Perold-handelsmerk, ondersteun die oorname van die borgskap deur die Pinotage Assosiasie ten volle. Mnr. Thys Loubser, uitvoerende hoof van KWV, sê “Ons glo dit sal internasionaal groter gesamentlike dryfkrag gee ter verering van die nalatenskap van Pinotage én Perold”.
Op die meegaande foto vertoon mnr. Dave Hughes, Suid-Afrika se internasionale wynkenner en Sir Ian Good, die 2009 president van die IWSC, die nuwe trofee.
14 Desember 2009