
Die KZN-suikerrietsnybedryf is op dreef om 'n omset met R10 miljoen per jaar te laat groei danksy bedryfservaring, besigheidskennis en betroubare finansiële steun.
Mnr. Khumbulani Mthethwa, eienaar van Sans Souci Harvesters in KwaZulu-Natal, het 11 jaar in die bedryf bestee as werknemer, voordat hy in 2007 sy eie besigheid begin het. Binne agt jaar het hy een van die bedryf se belangrikste werkgewers geword, met 450 seisoenswerkers onder sy bestuur. Hy dra nou sy vaardighede oor aan opkomende boere via die Tongaat Hulett & Simamisa-projek wat mense aanmoedig om op gemeenskapsgrond met suikerriet te boer, met Tongaat Hulett as die gekontrakteerde afsetter. Hy het ook sy eie suikerrietplaas gekoop teen ‘n koste van R6,3 miljoen
Alhoewel hy betrokke was by plaasbestuur onder leiding van sy werkgewer en mentor, sê Mthethwa dat die eerste paar jare waarin hy sy eie besigheid bestuur het moeilik was: “Wanneer jy iemand anders se besigheid bestuur, kan jy altyd ‘n besluit na jou baas verwys. Wanneer die verantwoordelikheid egter by jouself lê, is dit ‘n baie groter uitdaging.”
Mthethwa kon hom darem beroep op die raad van rolspelers in die bedryf, insluitende die Suid-Afrikaanse Suiker-assosiasie (SASA). Hulle kursusse het hom in staat gestel om regulerende aangeleenthede, soos BTW en ander belastingvorms, sowel as kontantvloeibestuur, onder die knie te kry.
“Baie aanvangsbesighede soos myne sink binne die eerste jaar omdat die eienaars byvoorbeeld eenvoudig nie weet dat die rente-las op onbetaalde belasting jou kan knak nie,” sê hy. “Nuwe entrepreneurs weet ook nie dat ‘n gebrek aan kontant in die hand dit eenvoudig onmoontlik maak om geleentheidswerkers wat, soos in my geval, jou seisoenswerksmag uitmaak, te betaal nie. Jy moet baie mooi rondom jou bedryf se werking beplan om seker te maak dat jy oor kontant beskik om die tydperke te dek wanneer daar geen inkomste is nie.”
Suikerriet kan slegs in die droë seisoen geoes word, wat middel-April begin en einde November eindig. Soos Mthethwa uitwys, het hy slegs sewe maande waarin hy genoeg inkomste moet genereer om sy jaarlikse uitgawes te dek.
Dit sluit in sy permanente werksmag van bestuurders en administrateurs en die bedryfskoste van die twee vragmotors en vier bakkies wat hoofsaaklik gebruik word om sy seisoensnyers na terreine regoor die streek te vervoer.
“Ek was gelukkig genoeg om my kliëntebasis redelik vinnig te laat groei en die hoeveelheid suikerriet wat ek sny meer as te verdubbel vanaf die oorspronklike 80 000 ton. Terselfdertyd het my groei beteken dat ek meer kontrak- en permanente werkers kon aanstel. Die oes van suikerriet is arbeidsintensief weens die heuwelagtige terrein. Groot oesmasjiene kan eenvoudig nie op die lande kom nie.”
Aansienlike besigheidsvaardighede is nodig om ‘n suikerriet-oesbesigheid nie net te bestuur nie, maar ook te laat groei. Dit is nie so maklik as om net mense die lande in te stuur met snytoerusting nie.
“Dit is uiters belangrik om die balans te handhaaf tussen die regte aantal snyers en die hoeveelheid suikerriet wat ons moet sny om kop bo water te hou as ‘n besigheid,” sê Mthethwa. “Die onvoorspelbaarheid van die weer maak dit nog moeiliker om hierdie balans te handhaaf. Ons beplan dalk vir 200 000 ton, net om ‘n paar maande later deur ‘n droogte gekonfronteer te word en gevolglik met ‘n kleiner volume suikerriet op te eindig.
“Dit is wanneer jy die ondersteuning van jou bankiers nodig het en wanneer hulle die wisselvalligheid van die landboubedryf in die algemeen en die suikerrietbedryf in besonder moet verstaan.”
“Standard Bank was van die begin af my bank. Hulle het my voertuie gefinansier en my gehelp met die aankoop van my eerste plaas. My jarelange ervaring in die bedryf, voor ek Sans Souci Harvesters begin het (wat tans sowat 200 000 ton suikerriet per jaar op kontrak sny) en die vyfjaarkontrak waarmee ek die besigheid begin het, het hulle vertroue gegee in my potensiaal om ‘n sukses te maak. My bestendige groei sedertdien het hul siening van my as ‘n goeie finansiële risiko bevestig.”
Mthethwa beplan om sy maatskappy se omset met R10 miljoen per jaar te laat groei deur die nodige voertuie en trekkers aan te skaf om die suikerriet wat hy geoes het na die verwerkingsaanlegte te vervoer.
Mnr. Diale Mokgojwa, Standard Bank se senior bestuurder: ondernemingsontwikkeling, sê Mthethwa se uitbreidingsplan dien as voorbeeld van ‘n diversifikasiebenadering wat die bank by alle primêre produsente en landboubesighede aanbeveel. “Jy maak jou bedryf baie meer volhoubaar deur opwaartse en afwaartse deelname aan die waardeketting. En indien jou diversifikasie ‘n organiese, natuurlike verlenging van jou bestaande aktiwiteite is, soos in die geval van Mthethwa se planne, kan jy jou huidige kostes oor ‘n groter inkomstestroom versprei en jouself meer winsgewend maak met minder moeite.”
Mokgojwa sluit af deur te sê: “Ons was baie bly om Mthethwa redelik vinnig vorentoe te sien beweeg van ‘n uitsluitlike oesfokus tot die kweek van sy eie suikerriet en nou sy beplande betrokkenheid by die logistiek van die bedryf. Hy is ‘n wonderlike rolmodel vir die bedryf en vir landbou as geheel."