
Byeboere van Stellenbosch het minstens R250 000 skade gely weens ’n groep vandale wat byekorwe in die omgewing leeg gesteel of vernietig het.
Mnr. Michale Allsopp, navorser by die Landbounavorsingsraad se navorsingstasie op Vredenburg, Stellenbosch, sê hy weet van sowat 200 byekorwe wat die afgelope twee weke onder vandale en diewe deurgeloop het.
“Ons is amper seker dit is dieselfde groep mense, want hulle werkswyse stem ooreen. Dié lot het ’n mate van kennis oor byeboerdery, want hulle steel die bye en rame uit die bokse en pak die bokse dan weer op mekaar. Wanneer die byeboer verby die korwe ry, lyk alles dus op die oog af in orde, maar daar is niks binne in nie. Dit laat ons dink die misdadigers het miskien klein bye-ondernemings, maar hulle steel pleks van om hul eie bye te vang.”
Mnr. Attie Mostert, ’n byeboer van Stellenbosch, se skade beloop al amper R90 000. Verskeie van sy korwe is verbrand of stukkend gegooi. Vandalisme en diefstal is een van die grootste probleme in die byebedryf.
In eMkhondo (Piet Retief) was daar sowat ’n dekade gelede meer as 2 000 byekorwe, maar vandag bestaan dit nie meer nie.
“Vanuit ’n navorsingsoogpunt maak die vernielsugtigheid dit vir my onmoontlik om navorsing te doen, want ek het nie veilige persele nie. Vir die bedryf beteken dit dat boere groot hoeveelhede bye en geld verloor. Dit beteken ook dat Suid-Afrika heelwat minder heuning produseer as wat hy behoort te doen,” sê Allsopp.
Afrika kan byebevolking red
Intussen sê prof. Robin Crewe, ’n internasionale byekenner van die Universiteit van Pretoria (UP), Afrika het die grootste aantal wilde heuningbykolonies ter wêreld en kan die byebevolking in die Noordelike Halfrond en Latyns-Amerika – wat dalk deur uitwissing bedreig word – aanvul.
Hy sê voortspruitend uit navorsing in die VSA, Europa en Latyns-Amerika was daar die afgelope tyd verdoemende scenario’s oor ’n klaarblyklike pandemie wat heuningbykolonies raak en grootskaalse verlies veroorsaak.
Crewe sê soos in die geval van die mensdom ook, is Afrika die oorsprong van alle heuningbykolonies. Hulle het van Afrika af na die res van die wêreld versprei waar hulle klassieke indringerspesies geword het.
Hy voeg by dat onlangse navorsing het toon dat daar in Suid-Afrika tussen 12,4 en 17,6 byekolonies per vierkante kilometer voorkom teenoor slegs tussen 2,4 en 3,2 kolonies in Duitsland.
31 Augustus 2010