
Benutting van die modernste genetika in diereteelt is onontbeerlik vir vordering in enige vleisbeeskudde, sê een van Australië se voorste genetikakenners, mnr. Alex McDonald.
Hy is een van die sprekers op die jaarlikse Vleisbeesskool by Aldam wat van 15 tot 17 Oktober deur die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF), Breedplan en Landbouweekblad aangebied word.
McDonald se spesialiskennis pas goed in by die skool se hooftema, "Groei en Doeltreffendheid". Hy werk by die Landboubesigheids-navorsingsinstituut waar hy met die beesgenetika-uitvoeragentskap en tegnologie- en voorligtingsdienste gemoeid is.
Hy sê dit is belangrik om byeenkomste soos die Vleisbeesskool by te woon, want daar kry telers die geleentheid om te hoor wat in ander lande aangaan, in hierdie geval boonop ’n land met ’n soortgelyke klimaat en produksiestelsel. McDonald was betrokke by die ontwikkeling van Breedplan gedurende die 1980’s.
In Australië gebruik die voorste beesboere ’n wye verskeidenheid genetiese tegnologie om genetiese vordering te versnel. Dit sluit Breedplan se benaderde teelwaardes en indekse in. Hy gaan hierdie metodes breedvoerig op die Vleisbeesskool verduidelik, asook die beste manier om groei en doeltreffendheid te meet.
Verskeie ander buitelandse en plaaslike kenners gaan groei en doeltreffendheid onder oë neem en ook praktiese demonstrasies oor beesboerdery hou.
Die Vleisbeesskool se hoofborge is Pick n Pay, Molatek, Zoetis, Land Bank, Unistel, Taltec, Sparta, BKB, RPO en Rudd Skaal. Die prys vir al drie dae, wat verblyf en etes insluit, is R6 360. Mense kan nou reeds op www.stockmanschool.co.za registreer.