
Mnr. Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het op die Aldam-veeskool gesê die RPO het met die samewerking van dr. John Purchase van die landbousakekamer Agbiz ’n nuwe stategiese plan vir die volgende vyf jaar opgestel.
Die huidige statutêre heffing aan die Rooivleisbedrysforum is met twee jaar verleng. In hierdie tydperk moet die RPO ’n nuwe statutêre heffing beding wat in die behoeftes van die bedryf voorsien. ’n Konsultant sal met al die lede van die Rooivleisbedryfsforum skakel om teen vroeg aanstaande jaar die omvang van die heffing te bepaal.
“Dié onderwerp is deeglik op die RPO se afgelope tweejaarlikse kongres bespreek, want die tyd is ryp om die statutêre heffing te gebruik om groter kapasiteit teweeg te bring,” het hy gesê. “Die huidige heffing is uiters konserwatief. In weerwil van die politieke wil het die owerheid nie die vermoë om die bedryf behoorlik te reguleer nie. Die bedryf sal self daarmee moet help.”
Volgens Schutte sal die rooivleisbedryf moet help om die gapings in die bedryf aan te vul. Dit behels onder meer aspekte wat die verbruiker raak, transformasie, navorsing en skakeling oor die skep van ’n bemagtigende omgewing en produksie-ontwikkeling.
“As die bedryf nie self ’n bydrae tot dieregesondheid lewer nie, kan probleme ontstaan,” het hy gesê. Dit behels onder meer die instandhouding van en beheer oor die bek-en-klouseervrye gebied in die land, en vanjaar in besonder die bekamping van brucellose onder grootvee. Aan die kleinveekant is een van die ernstige gevaarligte runderpes by kleinvee (peste des petits ruminants of PPR), wat volgens hom tot elke prys gestuit moet word.
Schutte het gesê veeartsverslae dui daarop dat die voorkoms van brucellose reeds kritiek hoë vlakke bereik.
“Die siekte was in 1994 redelik onder beheer, maar die huidige situasie beteken dat ons die siekte amper van voor af die stryd moet aansê.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.