
Boere kan ’n intensiewe skaapboerdery en voermeetstasie besoek as hulle die LRF-Veeskool vanaf 13-15 Oktober by Aldam bywoon. Albei stelsels speel gaandeweg ’n groter rol in die rooivleisbedryf.
Dit pas in by die Veeskool se tema “Kritiese suksesfaktore vir ’n inklusiewe en winsgewende lewendehawe-waardeketting”. Die hibriede Veeskool kan vanjaar fisiek by Aldam of virtueel bygewoon word.
Veeskoolgangers kan op Woensdag 13 Oktober tussen twee besoeke aan boere kies: die intensiewe skaapboerdery en lamhokstelsel van mnre. Llewellyn en Gareth Angus, Wisp-Will-boerdery, Arlington, en die ZI Meyer Genetics Centre van mnre. Thys en Pieter Meyer, ZI Meyer-boerdery, Lovedale, Lindley.
Die Angus-familie boer met Merino’s, Simmentalers, Simbras en wild. Gareth is onder meer in beheer van die skaapboerdery. Hy sal vertel hoe hul intensiewe skaapboerdery funksioneer. Hulle het lamhokkies vir tweelingooie en lamkampies vir eenlingooie. Die boerdery het sy eie voerkorrelaanleg. Hulle het vanjaar oorgeskakel na RFID Experts se stelsel, wat deur BKB bemark word, om kuddebestuur makliker en akkurater te maak.
Mnr. Willie Kruger van RFID Experts sal die klassering van skape met RFID (radiofrekwensie-oorplaatjies) demonstreer, terwyl sy kollega mnr. Schalk de Villiers oor die lewensvatbaarheid van intensiewe skaapboerdery sal praat.
Die Meyers boer met Brahmane, Simbras en Simmentalers. Hulle het onlangs ’n GrowSafe-voermeetstasie geïnstalleer. Dit het plek vir 96 bulle en hulle kan twee groepe bulle afsonderlik van mekaar vir doeltreffende voerinname toets. Voorheen het hulle meer as tien jaar van hul bulle by die Landbounavorsingsraad (LNR) laat prestasietoets om teelwaardes te bekom. Nou evalueer hulle al hul eie bulkalwers en toets ook bulle van ander boere en rasse.
Tydens die besoek aan die Meyers sal mnr. Mecki Schneider, mede-eienaar van die GenTecSol-toetsstasie in Namibië, ’n sakemotivering oor die insameling van data oor voerinname lewer, mnr. Koos Kooy, Simmentaler-teler van Mooirivier en eienaar van Livestock Alliance, sal oor sy GrowSafe-toetsstasie gesels, terwyl prof. Michiel Scholtz en me. Georgette Pyoos-Daniels van die LNR-Diereproduksie-instituut by Irene oor die waarde van hul GrowSafe-stelsel in navorsing sal praat.
Ander sprekers
Dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), sê tydens die Veeskool sal ander sprekers verskeie aspekte bespreek wat ’n verskil op die plaas kan maak, soos dieregesondheid, genetika, voeding en weiding.
Kleinveeboere kry ’n kans om by ander plaaslike kenners te leer wanneer mnr. Albie Horn, Boerbok-teler van Kuruman, oor bokvleis se rol in die rooivleisbedryf sal praat. Mnr. Jaco Maass (BKB) sal oor radio- en hoëfrekwensie-oorplaatjies se waarde in bestuur by voerkrale en op plase gesels. Dr. Fanie Steyn (Ramsem/Absolute Genetics) gaan praat oor die bespoediging van die genetiese proses met nuwe voortplantingstegnologie. Dr. Vlok Ferreira (Molatek) sal boere inlig oor die uitgroei van speenlammers en speenkalwers vir ekstra wins.
Mense wat die Veeskool fisiek wil bywoon, kan nog tot Sondag 10 Oktober bespreek en betaal. Besprekings vir aanlyn lesings sluit op 12 Oktober.
Dit kos R9 660 om die Veeskool by te woon (verblyf, alle etes en lesings vir drie dae ingesluit) en R920 vir aanlyn bywoning. Pryse sluit BTW in.
Bespreek aanlyn op Quicket by https://bit.ly/3zLm9qw of op die Veeskool se webblad. Kyk na die volledige program by www.stockmanschool.co.za
Navrae: Me. Izaan du Plooy, office@lrf.co.za, of me. Charmaine Alberts, 082 922 3747.