
Hoeweldie vraag na beesvleis oor die hele wêreld gaan styg, gaan dit nie noodwendig met ’n styging in die vleisprys gepaardgaan nie, het prof. Mike Goddard, diere-genetikus van die Universiteit van Melbourne, op die jaarlikse Vleisbeesskool van Landbouweekblad, Breedplan en die Lewendehawe Registrerende Owerheid (LRF) op Aldam naby Ventersburg gesê.
Hy ken Suid-Afrika se rooivleisbedryf nie so goed nie, maar as hy dieselfde vir hierdie boere moet sê as vir hul Australiese eweknieë, sou hy goeie en slegte nuus kon gee. Die goeie nuus is dat die wêreld se stygende bevolking gaandeweg meer vleis wil hê.
Mededingers
Die slegte nuus is dat die Suid-Afrikaanse boer nie noodwendig meer geld vir sy produk gaan kry nie omdat daar ander, groot produsente, soos Brasilië, is wat vleis aan die wêreld verkoop. Boonop is daar ander mededingers vir rooivleis, soos hoendervleis. Daar is selfs vegetariese hamburgers.
Boere se produksiekoste styg met sowat 2% per jaar. Daarom moet hulle hul produksie oor die volgende drie dekades verdubbel om doeltreffend te kan bly. Goddard se universiteit het ’n studie van die Australiese melkbedryf gedoen en gesien ’n verdubbeling is moontlik. “ ’n Verdubbeling van produksie sal egter nie moontlik wees as die boer bloot te werk gaan soos nou nie. “Hy moet nuwe tegnologie benut en aanpas. In hierdie opsig is daar groot vordering met die toepassing van genomika. Sommige van die nuwe tegnologie sal die moeite werd wees om te koop, maar moenie al die verkoopstories glo nie. Maak eers seker,” het hy gesê.
Die enigste boere wat oor 30 jaar nog op die plaas sal wees, is dus diegene wat hul produksie sal kan verdubbel, maar dit sal nie ’n maklike taak wees nie.
Lees ook prof. Johan Willemse se siening oor in pas bly met tegnologie.