Mnr. Llewellyn Angus (foto), Simmentaler- en Simbra-teler van Arlington en voormalige Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar, het op die LRF-Veeskool op Aldam gesê beraamde teelwaardes (BTW’s) is die genetiese waarde van ’n bepaalde eienskap, soos speengewig, wat ’n dier na sy nageslag oordra.
Dit dui die gemiddelde aan wat sy nageslag vir daardie spesifieke eienskap sal toon, en nie hoe álmal sal presteer nie. BTW’s moet ook altyd in samehang met visuele evaluering gebruik word.
Dit is belangrik vir stoettelers om aan hul rasgenootskappe se projekte vir teelwaardes deel te neem en bepaalde riglyne te volg wanneer hulle prestasietoetse doen. Hoe groter die groep wat getoets word, hoe beter. Al die diere in die groep moet dieselfde behandel word.