Die plaaslike veebedryf is vasgevang in ’n “perfekte storm” van stygende produksiekoste, markte wat weens siektes soos bek-en-klouseer gesluit word, veediefstal en wisselende weerstoestande.
Dit veroorsaak groot druk op boere se winsgewendheid, het prof. Frikkie Maré, ’n landbou-ekonoom wat in die veebedryf en rooivleismark spesialiseer, op die LRF-Veeskool by Aldam gesê. Hy het gesê boere het nie ’n keuse nie, hulle moet hul wins verhoog.
“Om dít te doen, moet ons ons produksie verhoog. Maar dan gaan jy koste ook verhoog. Hoe kry jy dit reg as jy nie in ’n posisie is om meer geld te bestee sodat jy meer wins kan toon nie?”