
Minstens een derde van die boere wat die LRF-Veeskool bywoon, gaan die daaropvolgende jaar weer omdat hulle so baie van winsgewende boerdery en die veebedryf se waardekettings leer. Boonop sê die res van die deelnemers volgens ’n opname hulle sal die Veeskool gedurende die volgende drie jaar minstens een keer weer bywoon.
Die volgende Veeskool word van 13 tot 15 Oktober deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad aangebied. Dit word fisiek by die Aldam-vakansieoord naby Ventersburg in die Vrystaat gehou, en virtueel om boere in staat te stel om die verrigtinge aanlyn vanaf hul plase te volg. Die getal mense wat self Aldam toe wil gaan, sal weens covid-19-regulasies beperk word.
Wat maak die Veeskool gesog onder veeboere en hoekom is dit elke jaar vol bespreek? Suid-Afrika se karkaspryse is bykans die helfte van sy internasionale mededingers soos Amerika en Australië (ongeveer R130/kg), en soortgelyk aan dié van Brasilië, wat goedkoop kommoditeitsvleis aan internasionale markte verskaf. Om te oorleef, moet Suid-Afrikaanse veeboere hul boerderye winsgewender bestuur en hul só posisioneer dat hulle aan die behoeftes van die internasionale markte kan voldoen.
Suid-Afrika het in die afgelope vyf jaar ’n netto uitvoerder van vleis geword. Die groot handelsvennoot is China wat tans 30% van Suid-Afrikaanse vleis koop. Die Chinese se rooivleisverbruik het vanaf 1960 tot 2020 van 5 kg tot 63 kg per persoon per jaar gestyg. Kenners voorspel dit sal in die volgende 30 jaar met nog 30 kg toeneem.
Daarom is dit vir veeboere belangrik om hierdie markte te verstaan en by die internasionale sprekers van China, Brasilië, Australië, Amerika en Namibië op die Veeskool te leer. Hierdie sprekers gaan die Veeskoolgangers oor hul vereistes en eie suksesse vertel. ’n Groot aantal lesings sal oor voeding, dieregesondheid, teelmateriaal en weiding gelewer word.
Bespreek op die Veeskool se webblad: www.stockmanschool.co.za