
Boere van oor groot dele van Afrika gaan van 13 tot 15 Oktober aanlyn aan vanjaar se LRF Veeskool deelneem, terwyl talle mense van Suider-Afrika die geleentheid fisiek gaan bywoon om by die beste veekenners ter wêreld te leer.
Die geleentheid wat deur die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), Breedplan en Landbouweekblad gehou word, neem vanjaar die vorm van ’n hibriede byeenkoms aan. Mense kan die Veeskool self by Aldam naby Ventersburg bywoon of via die internet na die lesings luister. Die tema is: Kritiese suksesfaktore vir ’n inklusiewe en winsgewende lewendehawe-waardeketting.
Dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van die LRF, sê die Veeskool sprei sy vlerke vanjaar behoorlik oor Afrika. In Zimbabwe gaan bykans dertig boere en landbouers in Bulawayo saamtrek om die lesings aanlyn te volg. In die verlede het hulle hul eie Beesskool gehou waar van die Veeskool se sprekers ook lesings gaan lewer het. Vanjaar kombineer hulle kragte met die LRF Veeskool. Dr. Mario Beffa, hoof van die Zimbabwe Herd Book, gaan ook sy kennis met die veeskoolgangers deel.
In Namibië gaan ’n groot aantal boere vanaf hul plase aanlyn inskakel. Drie van hul kenners, mnre. Mecki Schneider, voorsitter van die LRF, en Paul Strydom, hoofbestuurder van die Namibiese Vleisraad, en prof. Helmke von Bach van die Universiteit van Namibië, gaan die Veeskool self bywoon om lesings te lewer.
Mense van Botswana, Soedan en Ethiopië het ook geregistreer om aanlyn deel te neem.
Mense wat die Veeskool fisiek wil bywoon, kan nog tot Sondag, 10 Oktober, bespreek en betaal. Besprekings vir aanlyn lesings sluit op 12 Oktober.
Dit kos R9 660 om die Veeskool by te woon (verblyf, alle etes en lesings vir drie dae ingesluit), en R920 vir aanlyn bywoning. Pryse sluit BTW in.
Bespreek aanlyn op Quicket by bit.ly/2XEayfJ of op die Veeskool se webblad. Kyk na die volledige program by stockmanschool.co.za.