
Landbouweekblad is die mediaborg vir hierdie belangrike byeenkoms op die veebedryf se kalender wat sedert 2009 aangebied word. Weens die covid-19-pandemie het dit verlede jaar net virtueel plaasgevind, maar vanjaar het boere en ander belanghebbendes die keuse om dit self by te woon of om die lesings aanlyn te volg.
Dr. Michael Bradfield, uitvoerende hoof van die Lewendehawe-registrerende Federasie (LRF), sê dieregesondheid, naspeurbaarheid en die toekoms van die veebedryf word op die eerste dag onder die vergrootglas geplaas. “Ons veebedryf se gesondheidstatus is die fokuspunt, want sonder die handhawing van behoorlike dieregesondheid kan ons nie ’n welvarende bedryf hê nie. Dit is in der waarheid belangrik vir ons voortbestaan, anders gaan die veebedryf net marginaal winsgewend word en kwyn. Dit sal alle entiteite knou wat van die veebedryf afhanklik is, soos die voerkrale, stoetbedryf en opleidingsentrums soos universiteite.”
Die potensiaal is egter enorm. Suid Afrika het byvoorbeeld 14 miljoen beeste, waarvan 6 miljoen in die hande van die klein en opkomende sektor is, en die ander 8 miljoen in kommersiële hande. Lewende hawe is integraal deel van almal – ook stedelinge – se kultuur. Suid-Afrika het pas die regte stap gedoen om die veebedryf se toekoms en veral die uitvoer van rooivleis en lewende vee te bevorder met die inligtingsvergadering oor ’n naspeurbaarheidstelsel wat op 28 Julie gehou is. Dit volg op ’n ondersoek deur die LITS-SA-komitee wat die veebedryf en die staat verteenwoordig.
Suid-Afrika het sy bek-en-klouseervrye status in 2019 verloor en sal dit slegs herwin as ’n naspeurbaarheidstelsel ingestel word en die land kan bewys dat hy die siekte onder beheer het. Wanneer die siekte in die “vrye sone” uitbreek soos in 2019, kos dit die veebedryf sowat R5 miljard tot R6 miljard per jaar. Die verlies van uitvoer na China alleen sal veroorsaak dat die speenkalfprys met ongeveer R7 per kilogram daal, oftewel R1 500 per speenkalf.
Bradfield sê Australië en Amerika stel ’n goeie voorbeeld vir Suid-Afrika. Albei lande se karkasprys is tans meer as R130/kg, wat ’n slagos se waarde met R3 000 verhoog. Amerika voer sy duur snitte uit, ongeveer 10%, en voer ongeveer 13% van sy benodigde vleis in.
Die uitvoer van lewende skape deur Al Mawashi na die Midde-Ooste help reeds om die skaapbedryf meer volhoubaar te maak, al probeer die Dierebeskermingsvereniging vrugteloos om dit te stuit. Sowat 25% van die skape wat na die Midde-Ooste gaan, kom uit die Transkei. “Só vind ook kleiner boere baat by die uitvoerprojek.”
In die lig van die belangrikheid van ’n naspeurbaarheidstelsel is dit bemoedigend dat mnr. Mooketsi Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, die Veeskool gaan bywoon en as spreker optree. Mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, gaan ’n sakemotivering lewer oor hoekom produsente in die lewendehawebedryf moet belê. Dr. Mpho Maja, direkteur vir dieregesondheid van die departement van landbou, gaan oor die verbetering van die land se dieregesondheidstatus praat. Mnr. Paul Strydom, hoofbestuurder van die Namibiese Vleisraad, gaan oor Namibië se suksesvolle FANMEAT-stelsel vir naspeurbaarheid gesels.
Dit kos R9 660 om die Veeskool self by te woon (verblyf en alle etes vir drie dae ingesluit), of R920 vir aanlyn bywoning. Pryse sluit BTW in. Getalle sal weens covid-19-maatreëls beperk word. Bespreek aanlyn op Quicket by bit.y/3xqQhHq
Navrae: LRF-kantoor, 012 667 5258, office@lrf.co.za