
Die blootstelling aan kommersiële produksieveilings help die vertroue by opkomende boere skep in veilings as ’n betroubare markmeganisme.
Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder van BKB se afdeling vir veilings en eiendomme, sê ten spyte van die feit dat hy glo dat veilingsagente en makelaarshuise die veilingstelsel reg bedryf, dra kommersiële boere by tot die vertroue in die veilingstelsel.
Volgens hom dra die deelname van nuwe boere aan veilings by tot die vertroue dat veilings as ’n markmeganisme werk. “Veilings bly steeds ’n prysmakende meganisme in die mark wat die beginsel van gewillige koper en verkoper ondersteun,” sê hy. “Ons by BKB moet die aanbied van veilings in Lesotho ernstig oorweeg ter opvolging van ’n vroeëre kleinveeveiling in dié land.”
Lesotho se kleinveeboere
Nóg ’n voordeel van kleiner boere se deelname aan produksieveilings is die verbetering van die gehalte van hulle teelkuddes. “Lesotho se boere ondervind die afgelope jare reeds die genetiese verbetering soos aangedui deur ’n verhoogde wolproduksie. Indien dié buurland se boere se vertroue in die veilingstelsel verbeter, sal die verkryging van nog goeie genetika die wolproduksie verder verhoog,” sê hy.
Twee kleinveeboere uit die distrik Maseru, mnre. Tsehlo Tsehlo en Tsepo Nthabi, bevestig dat hulle baie baat vind deur kommersiële boere te besoek. Hulle is tevrede dat hulle beproefde genetika op veilings kan aanskaf wat hulle kleinveeproduksie kan aanhelp.
Mnr. Eddie Prinsloo van die Heuningkrans-Merinostoet in die distrik Smithfield, is een van die kommersiële boere in die Suid-Vrystaat wat al die afgelope vier dekades nou bande met veeboere uit Lesotho het.
Meer as die helfte van die aanbod
Op sy afgelope 33ste produksieveiling is meer as die helfte van sy aanbod van 138 ramme aan boere uit die buurland verkoop, teenoor 2016 se Februarie-veiling toe 48 ramme of 37% van die aanbod aan hulle verkoop is. Vanjaar is bykans die helfte van die 44 ooilotte aan Lesotho-burgers verkoop.
“Die Lesotho-burgers is boere in hulle eie reg, teenoor die nuwe geslag opkomende boere. Hulle bedryf hulle boerderye selfstandig,” sê hy. “Hulle kennis van kleinvee is op ’n hoë vlak, iets wat ons opkomende boere nog moet verwerf.
'Onbeperkte' mark in Lesotho
“ ’n Onbeperkte mark bestaan in Lesotho wat die aankoop van aanteelvee en ramme betref. Hulle monitor ook hulle nasionale skeersel vir gehalte en hoeveelheid,” sê hy.
Mnr. Roelf Jacobs, voorsitter van streek drie van die Merino-ontwikkelingskomitee (MOK3), verwelkom die deelname van nuwe toetreders tot die Merinobedryf. “Dit vervul ’n boer met trots as hy ’n ram op ’n veiling kan uitsoek en ter verbetering van sy kudde kan aanskaf,” sê hy. “Die Merinobedryf baat ook by die groter mededinging op veilings en die uiteindelike verbetering van die streek se wolskeersel.”