
Dit is steeds nie duidelik hoe die kwessie van werkers van buurlande, veral die van Zimbabwe, hanteer gaan word met die nuwe immigrasieregulasies wat in werking gestel gaan word nie.
Me. Elize van der Westhuizen, senior bestuurder van arbeidsverhoudinge by Agri SA, meen vir die landbou gaan die nuwe regulasies veral ’n uitdaging bied.
Die land-tot-land-ooreenkomste help ook nie met die verkryging van werkers vir die landbousektor nie. Die instroom van werkers, veral van Zimbabwe, het die sosiaal-maatskaplike uitdagings van werkers, selfs gedokumenteerde werkers, nie vergemaklik nie.
In 2009 het die Departement van Binnelandse Sake 'n projek begin waar Zimbabwiërs wat in die land is, tydelike permitte kon kry. Die dokumente van die werkers verval egter einde vanjaar.
Die nuwe regulasies plaas ook nou beperkinge op werkgewers, ondernemings en boere. Die onderneming wat wil aansoek doen vir ’n korporatiewe visum, moet bewys dat ten minste 60% van die totale werksmag Suid-Afrikaanse burgers is wat in permanente posisies aangestel is. “In die landbou is dit nie altyd moontlik nie en word daar in baie gevalle, afhangende van die kommoditeit wat verbou word, grootliks van seisoenale arbeid gebruik gemaak met ’n klein komponent permanente werkers,” het Van der Westhuizen gesê.
Volgens artikel 20 van die regulasies sal ’n werkgewer aan ’n nuwe vereiste moet voldoen voor hy of sy ’n korporatiewe visum sal kan bekom. Artikel 20 (1)(c)(iv) van die regulasies sowel as die aansoekvorm vereis bewyse van registrasie by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) voordat ’n korporatiewe permit uitgereik kan word. “Agri SA verstaan die behoefde om aansoekers vir korporatiewe permitte te verifieer, maar glo dat die vereiste nie billik is nie.”
Daar is egter goeie nuus vir skeerders. Van der Westhuizen het gesê Suid-Afrika maak meer as 100 jaar gebruik van Lesotho-werkers om skape en sybokhaar te skeer. Vanweë die skaarsheid van die vaardigheid, word Suid-Afrikaanse werkers opgelei as skeerders, maar min van die werkers word in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark opgeneem. Die Departement van Binnelandse Sake het in die Staatskoerant van 3 Junie 2014 die vaardigheid van skaapskeerders geklassifiseer as ’n gesogte vaardigheid. Dit sal hopelik help dat die verskaffers van skeerdienste in Suid-Afrika in die toekoms makliker korporatiewe visums kan kry.