
Die idee onder verbruikers en die kleinhandel dat vleis ’n “goedkoop” kommoditeit is, moet in die kiem gesmoor word, het dr. Michael Bradfield van AgriBSA tydens die jaarvergadering van die Rooivleis-Abattiorvereniging (RVAV) by Stellenbosch gesê.
Die kleinhandel vra ook gedurig dat vleispryse laag en gehalte hoog moet bly, “maar ek het ’n probleem daamee.” Die vleisbedryf in Suid-Afrka moet eienaarskap van homself neem.
Hy het gesê die plaaslike vleisbedryf moet uitvoere rig op internasionale hoëwaarde-markte. Vleis het ’n internasionale prys, en behoort na markte uitgevoer te word wat hoë waarde bied. “Sekere internasionale markte is bereid om meer vir gehaltesnitte te betaal, en die plaaslike vleisbedryf behoort dié markte meer te benut.”
Span Suid-Afrika
Daarvoor is ’n gesamentlike “Span Suid-Afrika” nodig wat modelle kan saamstel, het Bradflied gesê. Dieregesondheid is dus uiters belangrik, en die slegte nuus is dat Suid-Afrika ver agter talle Afrikalande is wat betref naspeurbaarheid en identifikasie – selfs lande soos Ethiopië en Soedan is voor Suid-Afrika.
Wat nodig is vir naspeurbaarheid en identifikasiestelsel is ’n gesagstelsel, ’n goeie databasis, identifikasiewysers vir die identifisering van diere, gepaardgaande dokumentasie, ’n volledige en wettige raamwerk waarvolgens gewerk word, rolspelers wat opgelei is, ’n monitering- en afdwingbaarheidstelsel, asook ’n behoorlike ouditstelsel.
Steek kers op by Australië
Suid-Afrika kan gaan kers opsteek by Australië – eetgehalte van vleis word daar as ’n “ervaring” beskryf volgens ’n vyfster-graderingstelsel.
Dieregesondheid, naspeurbaarheid, BEE, uitvoere en produknavorsing is die belangrikste aspekte vir die ontwikkeling van ’n soortgelyke stelsel vir Suid-Afrika, “en ons kan dit nie in isolasie doen nie, ons moet hande vat en dit saam doen.”