
Die sterk rand en die druk waaronder internasionale markte verkeer dwing vrugteboere om hul sakebelange na verwerking uit te brei, sê At Source Handmade Foods in Ceres.
Luidens ‘n berig op Business Day sê mnr. Handri Conradie die vrugtebedryf is ook deur die wêreld se ekonomiese uitdagings geraak ondanks groot oeste. Conradie verskaf vrugte aan Pick ‘n Pay en Woolworths.
“Die koste van produksie het druk op winsgewendheid in die vrugtebedryf geplaas, veral op appels en pere - weens kragtariewe wat deur die pomp van water, broodnodige koueberging en verspeidingskoste gestyg het,” vertel Conradie.
Verken nuwe markte
Conradie meen ‘n oplossing hiervoor is om nuwe markte te verken en so is die nuwe handelsmerk, At Source Handmade Foods, gestig en lewer varsprodukte in Gauteng en die Wes-Kaap.
Volgens die berig is ‘n rekord hoeveelheid rosyne vanjaar gelewer met verwerkers wat 500 000 ton aangekoop het. Die druiwe-oes uit die Oranjerivier alleen was 16,7 miljoen bokse.
Normale oes verwag
Intussen sê die Tshwane Varsproduktemark hy verwag ‘n normale vrugte-oes van jaar. Mnr. Deon van Zyl, besturende direkteur van interaktiewe markdienste by die Tshwane-mark, sê vrugtevoorrade in die land het tussen Maart en Julie vanjaar gemiddeld met 17,59% toegeneem, vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
“Oor die algemeen verwag ons dat die vrugte-oeste normaal sal wees,” vertel Van Zyl. Hy sê ‘n effense tekort aan rooi appels en pere kan voorkom, terwyl die druiwe-oes na verwagting normaal sal wees.
Wat die Wes-Kaapse steenvrugte aanbetref lyk die oes normaal, maar Van Zyl sê tydens die vroeë seisoen kan die voorraad perskes en steenvrugte minder wees weens die erge koue wat die noordelike dele van die land in die winter getref het.
31 Augustus 2010