Altesame 17 studente uit die gemeenskappe op die verskillende plase van die Dutoit-groep het pas 'n opleidingsprogram in basiese gesondheidsorg voltooi. Dié groep het ongeveer 8 000 werknemers.
Die opleidingsprogram is 'n gesamentlike inisiatief van die groep en die Kaapse vroueforum, een van die oudste organisasies in die vrugtebedryf, en is met behulp van geld van die sektorale opleidingsowerheid vir die landbou (AgriSeta) aangebied.
Me. Estelle Engelbrecht, hoof uitvoerende beampte van die vroueforum, sê deur deel te neem aan die program kan die gesondheidswerkers 'n bydrae lewer tot die verbetering van gesondheid in die landelike omgewing en tot die gehalte van lewe.
Mnr. Gys du Toit jr., mede besturende direkteur van die Dutoit-groep, sê die groot belegging op hul plase is nie net gerig op die boorde nie, maar ook op die mense wat 'n bydrae lewer tot die produksie van vrugte.
Die kursus sluit in anatomie en fisiologie, gemeenskapsgesondheid, eerste hulp, die hantering van HIV-Vigs en seksuel oordraagbare siektes, tuberkulose, algemene veiligheid, siekte en gesondheidsbestuur en tuis versorging.
Landbouweekblad, 23 November 2007