
‘n Nasionale veldtog is in Namibië geloods om die omvang van ‘n vrugtevliegplaag te bepaal nadat Suid-Afrika ‘n moratorium op vrugte- en groente-invoere van dié land ingestel het.
Namibië het ’n nasionale veldtog geloods om die ongunstige uitwerking van ‘n vrugtevliegplaag op sy plaaslike vrugte- en groenteproduksie te bepaal. Dit volg ná Suid-Afrika, Namibië se grootste uitvoervennoot, ’n monatorium op alle vrugte-invoere uit dié land geplaas het.
Dié aankondiging is onlangs by Namibian Food (Namfo) en die Akkerbouraad van Namibië se nasionale landboudag buite Tsumeb gemaak, waar vrugteboere wou vasstel waar die Bactrocera invadens-vlieg voorkom en wat gedoen moet word om uitvoere weer op die been te kry.
“Tans kan geen boer in die noorde van die land vrugte na Suid-Afrika uitvoer nie. Die vrugtevlieg is nog nie in die suide van die land teëgekom nie en dus kan diegene wat daar boer, nog uitvoer. Tog kan dit nie lank duur voordat die vlieg ook daar opgemerk word nie,” sê mnr. George Rhodes, vrugtevlieg-programkoördineerder in die departement van landbou, water en bosbou.
Op die oomblik is ’n kombinasie van plantspuitstof en grondswaminenting die mees doeltreffende manier om die pes te beheer, sê Rhodes. Dié soort vrugtevlieg is 'n aggressiewe indringer en kan tot 100 km gedurende sy leeftyd van drie maande reis.
Voordat Namibië aansoek kan doen om die monatorium te lig moet die omvang van die probleem bepaal word en empiriese bewyse dat sekere plase nie met vrugtevlieë besmet is nie, moet verskaf word.
Bron:
14 Augustus 2009