
Die Mutalerivier vloei hoofsaaklik deur landelike gebiede noordoos van Thohoyandou. Die rivier kom onder die Fundudzimeer uit en vloei tot by die Levuvhurivier in die Krugerwildtuin in ’n gebied wat onlangs tot die Vhembe-biosfeerreservaat verklaar is.
Mnr. Dawid de Wet, eienaar van Toerboer, organiseer die skoonmaakprojek saam met die gemeenskapsprojek Friends of Bennde Mutale. Toerboer is ’n maatskappy wat avontuurtoere reël. Volgens De Wet gaan vrywilligers verdeel word in twee spanne wat elk 30 kilometer van die rivier oor ’n tydperk van drie dae gaan skoonmaak. Daar sal saans langs die rivier kamp opgeslaan word. Die groepe gaan ook toetse van die watergehalte doen en die data op die World Water Monitoring Day se webtuiste (www.worldwatermonitoringday.org) plaas as deel van ’n wêreldwye veldtog. Met die samewerking van dr. Paul Fouché van die Universiteit van Venda gaan die span ná afloop van die skoonmaakproses op vier voorafbepaalde plekke ook biologiese ekomonitering van die rivier doen.
De Wet sê die projek word onderskryf deur die Departement van Waterwese se noordelike streek en daar word gehoop dat die projek waterbewustheid in die gebied sal bevorder. Dit kan aanleiding gee tot ’n permanente skoonmaak en skoonhou van die rivier.
Hoewel die projek reeds hulp van ondernemings en ’n myn in Louis Trichardt/Makhado gekry het, is meer borge nodig.
Persone wat verdere inligting verlang of daarin belang stel om die projek te borg, kan De Wet by 083 538 2865 of toerboer@gmail.com kontak.