
Vyf lisensies is al toegestaan vir die vervaardiging van biobrandstof, het mnr. Zingisa Mavuso, hoofdirekteur: petroleumkontroleerder van die Departement van Energie, by die Parlement gesê.
Die Departement vir Energie hou openbare verhore by die Parlement oor bemagtiging in die brandstofbedryf.
Mavuso het aan Landbouweekblad gesê hoewel vyf lisensies vir die produksie van biobrandstof goedgekeur is, dit nie beteken dat dié bedryf reeds in werking is nie. “Dit kan tot 18 maande duur afhangende van die bouwerk en die grootte om ‘n perseel op die been te bring. Beleggers moet gekry word en dan eers word gebou.”
Die vyf lisensies vir die bedryf is die afgelope vier jaar goedgekeur.
Oorskot mielies
Die DA het onlangs uitgelig dat die land se 4 miljoen ton oorskot mielies in die biobrandstofbedryf benut kon gewees het, as dit al in werking was.
Mavuso het by die openbare verhoor van die Parlement se gesamentlike gekose komitee vir ekonomiese ontwikkeling en die een vir energie, uitgelig dat transformasie binne die petroleum-bedryf steeds ’n kwelpunt is.
Mavuso het gesê daar is onderskeidelik 36% swartes op die raad en 41% swartes op topbestuursvlak. “Dit blyk dat dit aan die handves voldoen.” Die handves se mikpunt is om transformasie te bewerkstellig en 25% eienaarskap regoor die waardeketting te bring.
Mavuso het verduidelik as ‘n mens die tien swart raadslede van die nasionale oliemaatskappy, PetroSA, weghaal, sal die Internasionale Oliemaatskappy (IOC) se prentjie anders lyk.
Nie die ware prentjie
Ten tye van die verslag van die bedryf het PetroSA sewe swartes in top bestuur gehad, insluitende sy hoofekonoom en maatskappysekretaris. “So die 36% en 41% op die raad en topbestuur kan nie die ware prentjie wees nie,” meen Mavuso.
Sekere suksesse is wel behaal met transformasie met Reatile Gaz wat met Engen Pretoleum saamgesmelt het op ’n 55% en 45% aandeelhouersbelang.
Chevron het ook sy groothandelsaak verkoop wat deur voorheen benadeelde Suid-Afrikaners opgeneem is.
Die SA Petroleumbedryfvereniging (Sapia) het aangedui dat petroleum 2% tot die land se bruto binnelandseproduk (BBP) bydra en belasting vir diesel, petrol en parafien van meer as R43 miljard is vir die staatskas insamel.
15 September 2010