
Hoe het Mathilde & Co ontstaan?
Ek het die wêreld vol gereis as avontuur-toergids en daarna op Barrydale gaan bly, waar my pragtige babadogtertjie gebore is. Iemand het vir my ’n baba-slaapsakkie vir Kersfees gegee en ek het so baie daarvan gehou, dat ek besluit het om daarvan te maak. Die enigste probleem was dat ek nog nooit aan ’n naald geraak het nie! In 2010 het ek dus met ’n outydse naaimasjien en R200 se materiaal die onderneming begin. Ek het myself leer stik.
Doen jy nog alles self?
Dis nou ’n klein koöperatiewe besigheid wat uit vroue van die Klein-Karoo bestaan. Ons doel is om vroue in ons klein, landelike gemeenskap te bemagtig deur hulle ’n vaardigheid, die liefde vir handwerk en sakesin te leer.
Waar versprei en bemark jy die produkte?
Ons Facebook-blad is ons belangrikste bemarkingsplatform. Mense wat mekaar van ons vertel, het ook wondere verrig. Ons verskaf nou aan boetiekhotels en winkels oor die hele land. Ons verkoop ook in Amerika en Europa deur die Etsy.com-winkel.
Wat maak die produkte uniek?
Die kleurvolle shweshwe-lappe is ons inspirasie. Van die baba-slaapsakke, kinder- en vroueklere tot sagte speelgoed het oorspronklike ontwerpe en word gemaak met ’n ma se passie en omgee. Die unieke styl spreek tot alle kulture, nasionaliteite en ouderdomme. Ons produkte word plaaslik met die hand vervaardig – dis ’n aspek wat belangriker raak vir mense.
Hoe het jy gemotiveer gebly?
Ek weet eerlikwaar nie! Omdat ons is in ’n afgeleë gebied woon, is daar baie struikelblokke. As jy een ritsluiter te min het om ’n belangrike bestelling klaar te maak, moet jy minstens 88 km ry om dit te koop. Dit het drie jaar geduur voordat ek ’n bekostigbare koerierdiens opgespoor het.
Wens jy daar was iets wat jy voor die tyd geweet het?
Hoe stresvol dit is om jou eie onderneming te besit. Daar is vryheid wat tydbestuur betref, maar jy is ook verantwoordelik vir jou werknemers se inkomste, daarom kan jy nooit-ooit opgee of die pas verslap nie.
Navrae: 071 676 3939; e-pos: contact@mathildeandco.com; webwerf: www.mathildeandco.com.