
‘n Taakspan sal riglyne vir toekomstige wateroordragte moet neerlê ingevolge ‘n beginselbesluit deur die Minister van Water- en Omgewingsake, ná ‘n hoëvlak besoek deur Agri SA. Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het ‘n afvaardiging na die Minister van Water- en Omgewingsake gelei om hoofsaaklik te gesels oor die oordrag van watergebruiksregte wat sedert 2007 deur die Departement van Waterwese geweier word. Die Departement voer aan dat besproeiingsboere nie aan die vereistes van die Waterwet aangaande waterreghervorming voldoen nie. In ‘n onlangse opname by Agri SA se affiliasies het diegene wat gereageer het, aangetoon dat sowat 2 000 hektaar deur die weierings van die Departement geraak word. Die opname toon verder aan dat slegs vier gevalle van wateroordrag die afgelope twee jaar goedgekeur is, terwyl 134 aansoeke vir wateroordragte afgekeur is. “Dié neiging is kommerwekkend en plaas ‘n groot demper op landbou-ontwikkeling wat nie in die huidige resessie toestande verantwoordbaar is nie, terwyl landbou een van die min sektore is waar ekonomiese groei moontlik is.” Die bevindinge van die Oranjerivier Herbeplanningstudie dui ook aan dat betreklik groot hoeveelhede water gereserveer is, wat aan voorheen benadeelde gemeenskappe toegeken kan word. Tot op hede het die Departement nie hiervan gebruik gemaak nie, het Möller gesê. “Gebaseer op resultate van die opname wil dit voorkom asof sowat 2 500 werksgeleenthede jaarliks verlore gaan as gevolg van hierdie onnodige beperking wat die Departement van Waterwese op besproeiingsboere plaas. Dit het gevolglik ‘n negatiewe uitwerking op sodaniges se huishoudelike voedselsekerheid”, aldus Möller. Agri SA het voorgestel dat bestaande aansoeke vir die oordrag van watergebruiksregte binne ses maande beoordeel en afgehandel word aan die hand van algemene SEB-regulasies. Die Minister het onderneem om binne twee weke terugvoering oor Agri SA se voorstel te verskaf. Die Minister het ook die aanstelling van die taakgroep in beginsel goedgekeur om aan riglyne vir wateroordragte te werk wat in die toekoms sal geld. 8 September 2009