Die onderhandelings oor tariewe in die landbou is 'n rookskerm. Wêreldhandel sal onregverdig bly en selfs as daar toegewings ten opsigte van tariewe wees, sal handel weer op ander maniere, soos fitosanitêre maatreëls, beperk word. Dít is die doemboodskap van mnr. Mohanmmed Karaan, voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad.
Hy het op Katoen SA se jaarlikse toekenningsplegtigheid in Pretoria gesê wêreldmarkte word versadig deur kommoditeite en die wêreldmarkarena is nie 'n gunstige een nie. "Weens tegnologiese vooruitgang word te veel in die meeste sektore geproduseer."
Van die Regering se kant kan ook nie veel hulp verwag word nie, meen hy. Hy sê die Regering sal aanhou om arm mense en verbruikers te bevoordeel. Dit is hoekom die koringtarief 2 % is, terwyl dit eintlik sowat 20 % tot 30 % moes wees. Ook wat die invoer uit buurlande betref, sê hy is daar geen manier waarop die Regering ander boere in die streek sal benadeel tot voordeel van Suid-Afrikaanse boere nie.
Die twee belangrikste aspekte wat die landbou self sal moet hanteer, is die harde ekonomiese werklikhede en maatskaplik-politieke kwessies, soos bemagtiging en grondhervorming. Bedrywe moet self met planne na vore kom om die situasie tot hul voordeel om te keer.
Karaan sê ter wille van stabiliteit moet swart mense billike toegang tot die landbou kry, daar moet in opleiding en die menslike kapitaal belê word en daar moet, pleks van subsidies, eerder aansporingsmaatreëls wees waar nuwe boere byvoorbeeld gehelp word om marktoegang te kry.
Aan die optimistiese kant het hy gesê die vooruitsig van 6 % groei in die land ontsluit nuwe moontlikhede. "Waar daar groei is, is daar markte." Daar is egter ook uitdagings. "As groei van 6 % behaal word, sal die land 3,5 miljoen nuwe professionele werkers per jaar nodig hê, terwyl universiteite in die land maar 110 000 per jaar kan oplei."
Hy sê produktiwiteit kan net verbeter, die kapitaalmark sal groei soos rentekoerse styg en buitelandse beleggings sal toeneem.
25 November 2005