
Die inwyding van ’n nuwe pawiljoen, ’n goeie rugbywedstryd, ’n Jonny Clegg-vertoning en vele stories en herinneringe deur oud-skoliere wat mekaar weer na jare by die kollege ontmoet, was volgens die huidige visiehoof, mnr. Jo Sadowski, die hoogtepunte van die honderdjaar-feesvieringe by Weston Landboukollege.
Na honderd jaar is Weston, in Mooirivier, KwaZulu-Natal, steeds vuur en vlam vir die opleiding van landboukundiges. “Oor die jare heen het die kollege deur vele veranderinge en uitdagings steeds sy voete in ’n enkele visie geanker gehou – om goed opgeleide landboukundiges op te lewer. Praktiese opleiding en deelname van elke leerling in die kollege aan die praktiese take op die plaas was, is en sal die kern van ons opleidingstelsel bly,” meen Jo.
Die skool is op 17 Augustus 1914 in die lewe geroep op die perseel wat in die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902 deur die Britse weermag as ’n basis gebruik was. Die skool is genoem na die eerste goewerneur van Natal, Martin West, en is aanvanklik as ’n handelskool bedryf.
Sedertdien het Weston vele mylpale bereik. “Dit gaan egter nie oor individuele prestasie nie, maar eerder hoe sukses en persoonlike ontwikkeling in ’n gemeenskap bevorder kan word. By Weston streef ons daarna om seuns uithouvermoë, vasberadenheid en gesonde selfvertroue te leer. Die individu is verseker belangrik, maar waardes soos selfdissipline, integriteit en gesonde selfvertroue, floreer in groepsverband. Só help ons seuns om mans te word en veranderinge en uitdagings sonder vrees aan te pak,” sê Jo.
Toerusting en finansiering is nou die kollege se grootste uitdaging volgens Jo. “Om ’n skool en ’n kommersiële boerdery te bedryf en seuns op te lei sodat hulle die nuutste tegnologie met vertroue kan gebruik, verg ’n sterk, volhoubare finansiële onderbou. Daarvoor het ons finansiering nodig en ons is hard aan die werk om dit te bekom.”