
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se besluit om 12 wildspesies in 2016 en toe nog 33 spesies in 2019 as landrasdiere ingevolge die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) te lys is op Dinsdag 21 Februarie in die Noord-Gautengse hooggeregshof ter syde gestel.
Die trust vir bedreigde natuurlewe (EWT) en die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) het van meet af kapsie gemaak oor die byvoeging van wildspesies tot die lys omdat dit ingevolge die Wet op Diereverbetering soos plaasvee, onder telersgenootskappe, geregistreer kan word.
In sy hofaansoek om die departement se besluit te hersien en ter syde te stel het die EWT aangevoer dat daar onder meer nie voldoende en inklusiewe openbare deelname in die besluit was nie en dat die besluit deurgevoer is sonder konsultasie met ander staatsdepartemente.
Die EWT se regspan het ook aangevoer dat die lys van die spesies onder die landbouwetgewing nie die omgewingsimpak van die besluit in ag geneem het nie en dat die bestuur van wildspesies as “rasse” onder die departement van landbou strydig is met die oogmerke en doelwitte van artikel 24 van die Grondwet, die Wet op Omgewingsbestuur (Wet 107 van 1998, Nema) en die Wet op Omgewingsbestuur: Biodiversiteit (Wet 10 van 2004, Nemba) en die Wet op Diereverbetering self.
Onder die wildspesies wat in 2019 tot die lys bygevoeg is, is daar byvoorbeeld verskillende hert- of takbokspesies wat nie inheems is tot Suid-Afrika nie, al verwys die term landras volgens die Wet op Diereverbetering na “inheemse of plaaslik ontwikkelde” spesies.
Mnr. Peter Knipe, wat as voorsitter van die wildprodusente-organisasie (WPA), aansoek gedoen het vir die registrasie van die onderskeie spesies ingevolge die Wet op Diereverbetering het Woensdag gesê die hofbeslissing is teen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en hoewel dit vir hom ’n telleurstelling is, sal hy die hofstukke eers moet lees om te sien hoe dit die WPA gaan raak.
Knipe, wat nou saam met mnr. Joel Mamabolo, registrateur van diereverbetering, gewerk het in die proses om die diere gelys te kry, sê hy glo die departement sal appèl aanteken. Die departement se woordvoerder, mnr. Reggie Ngcobo, het onderneem om terugvoer te gee sodra daar ’n definitiewe besluit is.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.