
Mnr. Sean Kelly, voorsitter van die Custodians of Professional Hunting and Conservation in Southern Africa (CPHC-SA), het die naweek sy waardering teenoor die Gautengse hooggeregshof uitgespreek vir die besluit ter syde te stel dat meer as 40 wildspesies ingevolge die Wet op Diereverbetering (Wet 62 van 1998) as landras-diere verklaar word.
Kelly sê die hof se bevinding in die guns van die stigting vir bedreigde natuurlewe (EWT) en die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) bevestig die belangrikheid van openbare deelname in die wetgewende proses.
“Ons waardeer dat die hof hierdie proses wat deur die regering gevolg moet word wanneer daar nuwe wetgewing opgestel word, opnuut bevestig het,” het Kelly gesê. “Dit is vir ons belangrik dat die publiek en, in hierdie geval spesifiek die wildbedryf, die geleentheid kry om kommentaar te lewer op wetgewing wat nie net die bedryf raak nie, maar ook die lewensbestaan van mense wat hul brood en botter daaruit verdien.”
Die hof het verlede week die EWT en die SAJWV gelyk gegee dat daar nie voldoende openbare deelname was voordat 45 wildspesies as landras-diere verklaar is nie. Die hof het die lysting van die diere ingevolge dié wet ter syde gestel.
In sy hofaansoek om die besluit te hersien en ter syde te stel het die EWT aangevoer dat daar onder meer nie voldoende en inklusiewe openbare deelname in die besluit was nie en dat die besluit deurgevoer is sonder konsultasie met ander staatsdepartemente.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.