Van alle pistole is ’n Luger vir my die mooiste. By rewolwers is dit die Colt Python in .357 Magnum, of dalk die Ruger Super Blackhawk in .44 Magnum. Gelukkig besit ek een van laasgenoemde, en ek kan my dus gereeld in sy mooi vorm verlustig. Die ander twee moet maar op my droomlysie bly.
Droomlysies is belangrik,en al weet ek voor my siel dit is hoogs onwaarskynlik dat ek dit ooit sal besit, lê die vreugde daarin om steeds te kan droom.
As kind het ek so baie oor ’n Luger-speelgoedpistool gepraat dat selfs my moeder, wat niks meer van wapens af geweet het as om elke nou en dan te waarsku dat die duiwel ’n geweer laai, later ook geweet het wat ’n Luger is. Geld was nooit volop in ons huis nie, maar verjaardae en Kersfees was daar altyd iets spesiaals in die geskenkpakkie.